Wednesday

Woensdag 24 Oktober 2012

Die blou boek is op die rak, ondanks die stakings wat alles vertraag het, die blou bemarkingstoer het voorspoedig verloop, en my blou blog is op internet beskikbaar. Oop en bloot vir almal om die storie agter die storie te lees. Ek verstaan nie waarom sommige van die foto's wat ek gepos het, 'verdwyn' het nie. Seker iets wat opgelos kan word, maar ek het nie nou die krag daarvoor nie. Wil nou eers groet, wegkom van die kleur blou, swig voor iets rustiger soos wit. Wit soos stilte en slaap, wit soos drome en dink, wit soos die winter wat aan die kom is, wit soos leë bladsye wat met woorde gevul moet word... Die wit van wegraak, dis waarna ek nou verlang.

Woensdag 26 September 2012



Voila! Die blou boek het opgedaag, got the picture to prove it, en soos gewoonlik ervaar ek `n mengelmoes van verligting en trots en iets vreemder, amper `n soort antiklimaks. All that for this?! Amper 2 jaar van pyn en lyding vir so `n eenvoudige voorwerp van papier. So `n brose ding bly `n boek darem. Gooi dit in `n vuur en poef, net as en rook bly oor.

Nee, ek`s nie swartgalllig nie, eintlik nogal heel opgewonde. Dis net, wel, soos dit is. 'Vergeet van Mao se Klein Rooi Boekie', het ek gister op my Facebook-groep se muur gespog. `Koop eerder Marita se Groot Blou Boek.' Eben vandie uitgewer se bemarkingspan praat van die blou golf wat die land gaan tref. Mog het troffe, prewel ek in  my binneste. Mog het troffe!

Maar daar`s mos altyd ook `n bietjie ongeluk by die geluk - anders was ons seker klaar in die hemel? - en hierdie keer is dit `n staking by die drukkery. Wat beteken die boek is nie die naweek in die winkels soos beplan nie, maar eers teen volgende naweek. Wanneer my SA promosietoer reeds aan die gang sal wees! En die vertaling sal eers op 8 Oktober beskikbaar wees! Drat en zut en verdomp. Maar nou ja, help nie ek ontstig my daaroor nie, woon gelukkig al lank genoeg in die staakmal Frankryk om te verstaan van stakings. Que sera sera?

Thursday

Donderdag 19 September 2012

Wanneer is die storie agter die storie van 'n boek klaar geskryf? Want as ek die boek eindelik in my hande kan vashou as 'n soliede voorwerp, dan gaan die storie agter die skerms natuurlik nog aan...

Maar dan word dit ook al weer tyd vir die volgende storie agter die volgende boek.

Die Meisie(s) van Avignon
Ek het besluit ek sal hierdie joernaal staak sodra ek Die blou van onthou in my hande het - en dit gaan hopelik baie binnekort gebeur, dalk nog voordat ek vroeg volgende maand SA toe vlieg vir die promosietoer. Terwyl ek laas week my lyf toergids gehou het om van my rekenaar weg te kom en 'n ekstra inkomste te verdien, terwyl ek iewers tussen Parys en Avignon rondgetoer het, het Riana laat weet die boek het op haar lessenaare geland. En dit lyk pragtig, meen sy, en sy pos summier vir my 'n paar kopieë. En ek hou duimvas dat hulle blitsig opdaag, dan kan ek hier amen sê en 'n ander storie begin.

Friday

Vrydag 7 September 2012


Uiteindelik is die laaaang somervakansie verby en vir die eerste keer in amper 3 maande kan ek weer stoksielalleen in salige stilte by die huis sit en werk. Voel amper effe teleurgesteld dat die allerlaaste korreksies aan die finale proewe van die vertaling vroeër vandeesweek afgehandel is. Maar nou moet ek my tassie pak om vroeg môre-oggend na Parys te vertrek, waar ek 'n SA toergroep gaan ontmoet om tot volgende naweek toergids te speel. 


Gister my vliegkaartjies vir die promosietoer ontvang en al die optredes in die noorde, Bloemfontein en Stellenbosch is bevestig. Laat die sirkus begin, hierdie perdjie ken mos nou al haar passies. 

En van sirkus gepraat, dis weird om op die ouderdom van 50 plus vir die eerste keer 'n vrouetydskrif se 'voorbladnooi' te word. Ja, die befaamde uitgawe is volgende week op die rak. Toe 'n vrouetydskrif my 20 jaar terug op 'n voorblad wou hê - toe ek nog jonk en onskuldig genoeg was om  heel skaflike voorbladmateriaal te wees - het ek verskrik geweier omdat ek gedog het niemand in die boekwêreld sou my ooit weer ernstig opneem nie.
Nou's ek gelukkig lankal verby die stadium waar ek myself ernstig opneem, so ek beskou dit as net nog 'n nuwe ondervinding. En as die voorblad en die hoofonderhoud binne-in die tydskrif 'n paar mense kan oorreeed om my boek aan te skaf, dan's dit natuurlik net nog beter. 

Vrydag 31 Augustus 2012

Uiteindelik! Gister die volledige proewe van die vertaling gekry! Maar voor ek te opgewonde word, moet ek myself herinner dat ek nou wéér 'n keer die hele storie van voor tot agter moet lees. Teen dié tyd behoort ek lang dele daarvan uit my kop uit te kan opsê...

Saam met die proewe gister het die fantastiese nuus gekom dat die Afrikaanse én Engelse weergawes gekies is vir Exclusive Books se gesogte Lys (The List). Diep dankbaar, want dit beteken in al die EB-takke landwyd sal Blou en Forget-Me-Not baie sigbaar uitgestal word. Die soort blootstelling waaroor mens maar net kan droom vir 'n nuwe roman.

O ja, en die Engelse omslag is ook gefinaliseer. Ek het die stryd verloor om my eie gesig van die agterblad af te hou. Die pragtige blou teëls word nou na die agterste binneflap geskuif.

Saterdag 25 Augustus 2012


Die laaste - hopelik die laaste! - vrae van proefleser Jo-Anne wat ek vinnig moet antwoord. Sy't  'n oog soos 'n arend om onreëlmatighede te spot, dank die hemel daarvoor. As daar enige foute oorbly in die ms, nadat ek en Riana en Francois en die buitelesers en Annelize die vertaler en Mad die Engelse sub en die onderskeie proeflesers almal elke bladsy gefynkam het, sal dit verstommend wees. En tog weet ek ook daar's altyd iets wat deurglip, dit moet ek seker maar by voorbaat aanvaar.

Alain was toe Donderdag in die hof en die beslissing is hy mag eers oor 4 maande weer sy rybewys terugkry. Bummer. Maar dit kon ook 5 jaar gewees het. Of die regter kon besluit het dat hy nooit weer mag bestuur nie, aangesien hy nou as 'n 'gewoonte-oortreder- op die pad beskou word. 

Darem bietjie getroos gevoel toe ek dieselfde dag 'n bewonderende boodskap op my Facebook-groep se muur kry van 'n skilder wat stillewes skep met my boeke op. Besef toe dis dieselfde Mariaan Kotze by wie my sus 'n paar jaar gelede 'n skildery gekoop het omdat een van my romans daarop was! Soos 'n herontmoeting gevoel. 



Vrydag 17 Augustus 2012

En die kat kom weer! Mia se katjie is terug nadat sy amper 'n maand weg was en ons almal moed opgegee het dat ons haar ooit weer lewend gaan sien! Ek het dadelik na die Pyrenees gebel om vir Mia die blye nuus oor te dra. Sukkel nog om te glo dat so iets wonderbaarliks so onverwags kon gebeur. Miskien, sê ek vir myself, miskien is ons geluk besig om te draai? Want ek het waaragtig nou weer 'n stukkie doodgewone outydse good luck nodig om my te laat glo dat Alain se hofverskyning volgende week voorspoedig gaan verloop. 
Intussen is Eben by Tafelberg besig om die planne vir die promosietoer in Oktober te finaliseer – my optredes by Huisgenoot se Skouspel word reeds op my Facebook-groep se muur geadverteer – en Eldaleen van Vrouekeur het laat weet die uitgawe met my bakkies op die voorblad gaan volgende week drukkers toe. O hel, dis bitter om op my bejaarde ouderdom vir die eerste keer 'n 'voorbladnooi' te word. Met my vorige boek het ek Leserskring se voorblad gehaal, maar dit tel nie rêrig nie want dis nie 'n regte tydskrif wat orals in winkels en kafees rondlê nie. Dank die hemel ek is nie in SA nie, dis al wat ek kan sê. Ek sou dit acutely embarrassing vind om in my eie glimlag op die voorblad vas te kyk elke keer as ek brood of melk by 'n kafee gaan koop. Sou waarskynlik verkies om 'n week lank sonder brood of melk klaar te kom en soos 'n kluisenaar in my huis weg te kruip tot die volgende uitgawe van die tydskrif verskyn.  

Woensdag 15 Augustus 2012

Vandag is daardie vreemde Katolieke vakansiedag wat ek, soos Colette, nog nooit werklik verstaan het nie. In my pa se Protestantse Bybel was daar geen sprake van enige Maria wat hemel toe gevaar het nie. Maar op die vakansiedag van 15 Augustus, 1960 en 2007 onderskeidelik, was Colette en Tina darem met vakansie in Portugal. Terwyl ek op die vakansiedag van 15 Augustus 2012 by my lessenaar in my snikhete kantoor sit en werk. Soos gewoonlik, wil ek amper uitroep, oorval deur selfbejammering.

Laas week was dit Vrouedag in SA, toe kon ek g'n lewende of dooie siel op kantoor kry om my e-posse te beantwoord nie. En nou's dit hierdie onverklaarbare vakansiedag in Frankryk en Portugal en wie weet waar orals in Europa, en almal om my hou vakansie, al die winkels en kantore is toe, strate verlate en strande vol – en ek sit en werk! Natuurlik voel ek jammer vir myself! Moet teen vanaand die laaste geredigeerde deel van die  vertaling terugstuur na Riana toe sodat die hele spulletjie teen die naweek in proewe omgetoor kan word.

Maar as ek laas week gedog het die hitte is erg... Die hele land is nou amptelik in die kloue van 'n canicule,  hittegolf aangekondig deur die regering en die weerburo, met temperature rondom 40 grade C vir die volgende paar dae voorspel. En 40 grade C in Frankryk is véél erger as 40 grade C in SA, want dis so buitengewoon dat die mense op 'n streep omkap omdat hulle nie weet hulle moet water drink as hulle warm kry nie. Nou word daar elke dag oor die radio en op TV advertensies gespeel om mense te herinner om water te drink. Red nou 'n volk.

Vrydagaand 10 Augustus 2012

Mia is terug van haar kuier by die skoonfamilie in die noorde, steeds hartseer oor haar verlore katjie, maar tog ook opgewonde oor haar kuier volgende week by haar maatjie se vakansiehuis in die Pyrennees. Ek moet taxi speel, natuurlik, ses uur se ry soontoe, die nag oorslaap en ses uur se ry terug. Wou eintlik ook by die Brownes in Lasseube 'n draai gaan gooi het, maar dit gaan nie uitwerk nie want ek mis klaar 2 dae se werk met hierdie rondryery en ek kan dit eintlik glad nie in hierdie stadium van die wedstryd bekostig nie. Dis presies die 2 dae wanneer die Engelse redakteur die laaste deel van die vertaling na my sal terugstuur vir finale goedkeuring. Hoe gouer ek weer agter my lessenaar kan inval, hoe gouer kan ons die vertaling by die drukkers kry.

Mirepoix - naby waar ons Mia moet gaan aflaai
As ek vir Alain kon gestuur het om vir Mia te karwei, kon ek by die huis gebly het om te werk, maar hy het pas die laaste skof van sy 'straf' vir laas jaar se verkeersoortreding begin uitdien. Minstens drie maande sonder rybewys wat vir hom voorlê. Oor 2 weke moet hy weer in die hof verskyn en dan sal ons weet hoe lank dit gaan wees voordat hy weer mag bestuur en of hy 'n boete ook nog moet beaal of tronk toe moet gaan of wat de hel verder gaan gebeur. Intussen lewe ons in onsekerheid en hoop en ongeloflike stres. Nie wat ek nou nodig het nie.

Sondagmiddag 5 Augustus 2012

En terwyl die Olimpiese marathon op TV onder in die huis gehardloop word, is ek hier bo in die pylvak van my eie verdomde marathon. Weet presies hoe daardie arme uitgeputte atlete voel. Die gees wil aanhou, maar die lyf kán net nie meer nie.

Ek wil huil van moegheid, maar die einde is in sig. Klaar met die laaste deel van die vertaling, asook die erkennings wat agter in die boek moet kom, nou nog net 'n paar ongerymdhede in die vorige 2 dele uitstryk. Korreksies wat ek in die 3de deel aangebring het, wat beteken dieselfde woord of frase moet ook in die vorige dele verander word, of in kursief gedruk word, of wat ook al.

Ek mik nie vir enige soort medalje nie, te moeg vir sulke ambisies, ek mik nou net om klaar te kry.

Vrydagaand 3 Augustus 2012

Ek wou só graag vandag klaarkry met die vertaling sodat ek die naweek kan rus. En sport kan kyk. Ja, selfs 'n onsportiewe siel soos ek word geroer deur die Olimpiese malligheid in Londen. Maar die hitte het my vandeesweek ondergekry.

Dis ergergerg hitsig en my kantoortjie voel elke uur meer soos die oond waarin die Bybelse Daniel en wie nou weer nog moes vertoef. Ek trek die hortjies toe teen die son en skakel die outydse elektriese waaiertjie aan, maar die patetiese dingetjie waai vir al wat hy werd is sonder om enigiets reg te kry. Behalwe om 'n helse geraas te maak. Wat enige vorm van konsentrasie net nog moeiliker maak.

So nou gee ek op om iewers – waar?!? - te gaan afkoel. Nog sowat 30 bladsye van die vertaling oor om op my rekenaar te check, maar dit sal oor die naweek gedoen moet word. Goddank dit was nie laas jaar Augustus só warm nie, want toe was ek pal aan die skryf, g'n ontsnapkans uit die kantoor nie. Of dalk was ek so besiel deur die skrywery dat ek nie die hitte gevoel het nie? En noudat ek besig is met die sieldodende oorlees en oorlees en wéér oorlees, nou gryp ek na enige moontlike verskoning om uit die kantoor weg te kom?


Donderdag 2 Augustus 2012


 
Gisteraand 'n volmaan-jogasessie in die verlate ruïne van 'n twaalfde eeuse klipkerkie belewe. Ja, ek weet, dit klink verdag misties, maar dit was presies wat ek nodig gehad het om my moed te gee vir die laaste stuk pad wat ek met hierdie ms moet stap. Ons het joga gedoen terwyl die son sak, daarna 'n ruk rustig gemediteer, en toe 'n magiese piekniek geniet terwyl die vol maan agter die vervalle toring van die kerk opkom. Nou sien ek sommer weer kans vir die derde deel van die vertaling wat ek voor die naweek moet deurwerk.


Dinsdag 31 Julie 2012

Maar hopelik sal die boek nie heeltemal flop nie, so dink ek nou weer nadat ek 'n besonder bemoedigende e-pos van die Nederlandse vertaler Riet de Jong-Goossens gekry het. Sy't pas die Afr ms gelees en hou sommer baie daarvan en gaan dit beslis aanbeveel vir 'n Nederlandse vertaling, joegaai!


En wat die Engelse vertaling betref, is die wenstreep darem ook eindelik in sig. Die sportmetafoor is nie toevallig nie. Annelize het belowe sy stuur die laaste deel vóór die openingseremonie van die Londense Olimpiese Spele, want sy wou haarself beloon deur 2 weke lank ongesteurd TV-sport te kyk. En sowaar, teen Vrydagmiddag, enkele ure voor die skouspelagtige openingseremonie (wat ek gemis het omdat ek eerder 'n kunsmuseum in Montpellier wou besoek), was die laaste deel van die vertaling hier. Toe moes ek net wag dat Riana en Danita vir my die 'korrekte' tipografiese weergawe stuur sodat ek daarmee kan werk, en gisteroggend kon ek soos 'n geoefende atleet wegspring.

Kyk so met een oog na die Spele terwyl ek werk, maar meestal probeer ek van sport vergeet, gelukkig nie té moeilik vir so 'n onsportiewe siel soos ek nie, en konsentreer op die Engelse teks wat teen die einde van die week na die redakteur gestuur moet word...

Maandag 30 Julie 2012

Riana het die bandteks wat in die binneflap van die boek moet kom, vir my gestuur sodat ek dit kan goedkeur. Dis altyd vir my 'n embarrassing affêre, te veel van jakkals prys haar eie stert as ek dit self moet skryf, maar ek waardeer dit tog om insae te hê in wat iemand anders geskryf het. In hierdie geval het ek die geraamte behou, maar bietjie van die vet afgesny en die vleis effens anders aangebied.
Die foto wat gekies is vir die agterblad

Ek wil nie hê die bandteks moet onnodige besonderhede weggee nie, soos wie presies die eerste brief aan Colette skryf en waarom dit geskryf is, of wat later van Nandi word nie. Dis wat die leser in die loop van die boek moet leer. Ek wil ook nie hê daar moet té veel klem geplaas word op 'die storie van 3 vroue' nie, want dan skrik potensiële manslesers weer so groot dat hulle nie verder as die bandteks lees nie. Ek wil eerder beklemtoon dat dit oor 'n familie gaan, oor 'n taal en 'n plek, oor hoort en nie hoort nie. En natuurlik ook oor 3 vroue van 3 verskillende geslagte. 

Gister ook die finale prentjies van die omslag met die flappe en die loergaatjie gesien – en al wat ek in hierdie stadium kan sê is, selfs al flop die boek, sal dit nogtans 'n móói flop wees. Onder die mooiste omslae wat ek in 'n lang tyd gesien het. My onbeskeie en erg subjektiewe mening.

Donderdagaand 26 Julie 2012

Een van die pragtige prente wat Piet vir ons gesamentlike sprokiesboek gemaak het
En nou dink ek heeltyd aan 'n ander soort einde. Op die ou end eers vanaand die geredigeerde vertaling teruggestuur want ek kon net nie daarop konsentreer nie, treur al 2 dae lank oor die tragedie wat my vriend Piet die prentjiemaker getref het. Soms het selfs ons woordmakers nie woorde nie. Ek kan hom nie troos nie. Niks of niemand kan hom troos nie.

Intussen treur Mia oor haar katjie wat weg is van ons Maandag van Lourmarin/Manosque teruggekom het en ek probeer aanmekaar troos en sê, jy weet, katte verdwyn soms dae lank en daag dan weer op, ons ouer Kosi-kat het al vir 3 dae op 'n slag verdwyn, en kyk net, hier's sy steeds... Maar ek begin self vrees dat die jonger Chosi nie gaan terugkom nie. En dan wil ek ook vir haar sê daar's veel erger ellendes as 'n kat wat wegraak, dink net aan Piet wie se hele gesin op een slag uitgewis is, maar ek weet dit sal nie háár hartseer minder maak nie. Vir haar, op hierdie oomblik, is die verlore katjie die ergste voorstelbare ellende.

Besef nou dat my vriend Koos gesterf het net voordat ek in alle erns aan hierdie storie begin skryf het; en net voordat die ms eindelik drukkers toe gaan (volgende week, het Riana gesê?), sterf my vriend Piet se vrou en kind. Asof die hele storie so tussen hakies van verlies geskryf is.

Dinsdag 24 Julie 2012

Heerlike asemskepnaweek geniet terwyl ek wag dat die Engelse redakteur die 2de geredigeerde deel terugstuur. André se 60ste verjaardag op hulle nuwe domaine naby Lourmarin gevier, vreeslik rustig en luuks, no sex, drugs or rock and roll, how the times have changed, dink ek toe weer na aanleiding van Dylan se konsert die vorige naweek.

Ook Julian Barnes se Sense of an Ending in 'n enkele dag van voor tot agter gelees - wat 'n verligting ná ek omtrent 3 weke lank gely het om klaar te kry met James se Ambassadors – en besluit dis waaragtig 'n dun maar gewigtige meesterstukkie. 'n Klein wonderwerk van bondigheid en diepte oor die onderwerp van geheue en onthou waarmee ek op my bitter beskeie manier nou ook al amper 2 jaar lank bedrywig is. As ek 'n meer ambisieuse skrywer was, sou ek seker in trane van frustrasie en afguns uitgebars het omdat dit voel asof Barnes in 150 bladsye alles sê wat mens ooit oor onthou sou wou sê, so waarom selfs probéér om enigiets verder oor die onderwerp te skryf? Maar omdat ek myself nie met sulke hoë gerwe vergelyk nie, kan ek dit oopmond bewonder en opreg waardeer.

Môreaand wil ek die tweede deel van die vertaling terugstuur, dan's die einde rêrig in sig.

Vrydag 20 Julie 2012

Gister die 1ste deel van die geredigeerde vertaling teruggestuur – en Sondagaand kry ek die 2de deel om te check. Dus g'n blaaskans nie, maar dinge beweeg en alles begin uiteindelik bymekaarkom en dis 'n lekker gevoel. My vlugdatums en die program vir die promosietoer in Oktober is ook nou uitgeklaar.


Thomas en die Neef van die Noorde en die Neef se meisie kuier 'n paar dae hier en daar word tot laat saans buite musiek gemaak en gesels en gedrink, maar my liggie brand te flou om saam te kuier ná ek die hele dag moes werk En dan's daar nog al die gewone somerswaels wat onthaal moet word, soos die Hoogenbooms van New York en Tom-en-Michelle van Brussel wat laas week kom eet het. 

En die hittegolf maak niks makliker nie. 

Ek het 3 aande ná mekaar teen 10uur se kant stil-stil kamer toe gesluip en probeer om 'n stukkie te lees voordat my oë toeval. Sonder sukses. Elke keer ná omtrent 3 sinne aan die slaap geraak. Een keer selfs met my klere aan. Bygesê, die 3 sinne is Henry James-sinne - weer The Ambassadors begin lees ná Michiel H se Invisible Furies my lus geprikkel het – en 3 Henry James-sinne is so uitgerek en ingewikkeld soos 3 hoofstukke van enigiemand anders.

Sondag 15 Julie 2012

Gister se Bastille-dag-vierings en 'Republikeinse etes' op dorpspleine en vuurwerkvertonings en alles wat daarmee saamgaan, het geheel en al by my verbygegaan want ek moes myself aan my rekenaar vasketting om deel 2 van die vertaling teen môremiddag vir die Engelse redakteur te stuur. En vanoggend ligdag weer begin want vanaand gaan ons na Bob Dylan se konsert in die antieke amfiteater van Nîmes kyk, 'n geleentheid waarvoor ek al omtrent 40 jaar lank wag en wat ek waaragtig nie wil mis omdat ek 'n selfopgelegde skryftaak nie betyds kon klaarkry nie. Ons vertrek oor 'n halfuur en ek het pas die laaste bladsy op my rekenaar gelees, glory hallelujah. Bob Dylan here I come.

Woensdag 11 Julie 2012

Vanoggend was die 3de keer dat ek 'n uittreksel uit hierdie teks vir 'n gehoor gelees het – en wat 'n vreemde ervaring was dit nie! Die gehoor het in 'n saal by die Vryfees in Bloemfontein gesit en ek het voor my rekenaar by die huis op die Franse platteland gesit en danksy Skype en die moderne tegnologie kon ons vir mekaar kyk en met mekaar gesels. Gister tydens die oefensessie was die verbinding tussen Bloemfontein en Frankryk uitstekend, maar vanoggend tydens die live performance is ons 'n hele paar keer afgesny. Was nogal senutergend. Maar ek het heeltyd gevoel of ek soos Harry Potter met een of ander towerformule van een plek na 'n ander plek duisende kms daarvandaan getransporteer of getransformeer of ge-watookal is!

Dinsdag 3 Julie 2012


Slaapplek en kos vir 12 van ons oor die naweek...
Gister so tussen die skrop en stofsuig en huis skoonmaak vir ons eerste somergaste darem klaargekry met die eerste deel van Annelize se vertaling. Dankie tog nie nodig gewees om te veel te verander nie, meestal net 'n geval van hier en daar 'n woord wegvat of bylas, want sy het die ritme van my styl van die begin af opgetel en soos 'n goeie danser tot by die laaste noot behou.

Nou stuur Riana hierdie deel reguit na die Engelse redakteur want ons tyd raak min (wil ek amper uitroep soos Colette in haar reisjoernaal!) en ons sal dinge so stuk-stuk moet aanpak as ons die hele spul betyds by die drukker wil hê. En dan kry ek vroeg volgende week wanneer die meeste van ons oorslaapgaste weer vertrek het, die 2de deel van die vertaling van Annelize en die 1ste deel van die geredigeerde vertaling terug van die redakteur. Dan het ek tot die week daarna om aan die 2de deel te werk en die 1ste deel vir oulaas oor te lees om te kyk of daar nog enigiets is wat hinder en dan kry ek al weer die 3de deel van Annelize... 

Ai tog, en ek het so half geglo ek gaan 'n rustige somer hê. What was I thinking.

Vrydag 29 Junie 2012

En net toe ek lekker aan die vertaling begin lees, kom 'n dringende versoek van Leserskring dat ek ietsie oor die boek vir hulle katalogus skryf. (Saam met die nuus dat hulle 'n hele paar duisend kopieë bestel het.) Nou ja, so gesê, so gemaak, en hier volg wat ek hoop 'n paar lesers sal prikkel om die boek te bestel:

Elke storie het 'n begin en hierdie een het begin by 'n blou Portugese teël. Of liewers, die saad is meer as 'n dekade gelede reeds in my onderbewussyn gesaai – 'n storie oor 'n Afrikaanse familie wat oor drie geslagte en op drie vastelande afgespeel word – maar die grond van my verbeelding het onvrugbaar gebly tot ek op 'n pragtige potblou Portugese teël afgekom het.

Ek het geweet daar moes 'n versteekte liefdesverhouding wees wat die verloop van al die karakters se lewens sou verander, en ek het geweet só 'n verhouding sou slegs in 'n verre Latynse land moontlik wees. Maar ek wou nie wéér oor Frankryk skryf nie. En ek hét ook al 'n roman (Griet kom weer) oor 'n Italiaanse minnaar en 'n Italiaanse verblyf geskryf. Toe dink ek aan Griekeland, natuurlik, net om byna dadelik te besef dit sou nie deug nie. Griekse eilande en Griekse romantiese bevryding is deesdae ietwat oordoen, in boeke, rolprente, toneelstukke en selfs musiekblyspele. (Wie het nog nie van Shirley Valentine of Mamma Mia gehoor nie?) My volgende neiging was Spanje - ek het Barcelona 'n paar keer besoek en selfs 'n ent op die befaamde pelgrimsroete van Santiago de Compostela gestap om vlerke aan my verbeelding te gee – maar my verbeelding het, helaas, saam met my seer voete laag op die aarde bly sleep.

Maar op 'n dag word ek betower deur 'n antieke handgeverfde keramiekteël uit Portugal. Blouer as blou. Mooier as mooi. Dit het my besiel om oor die eeue oue kuns van azulejos te begin nalees – en my herinner aan die eeue oue verbintenis tussen Portugal en Suid-Afrika. Die Portugese seevaarders was immers die eerste Europeërs wat hier voet aan wal gesit het, hoewel ons geneig is om dit te vergeet omdat ons nooit, soos ons buurlande Mosambiek en Angola, deur hulle gekoloniseer is nie.

Hierdie Portugese navorsing het my aangespoor om weer 'n slag na fado te luister, die tradisionele musiek van verlies en verlange, en eensklaps het ek gewéét my verhaal oor verlies en verlange, oor drie geslagte wat mekaar soek en mekaar mis, kan nêrens anders as in Portugal geanker word nie. Die saad het 'n storie geword, die storie het 'n boek geword, en die boek het 'n naam gekry: Die blou van onthou. Lekker lees!

Woensdag 27 Junie 2012



En gister daag die eerste deel van Annelize se vertaling toe op! Joegaai! Verskriklik nuuskierig om dadelik te begin lees, maar Alain se verjaardag moet eers vandag gevier word. En ek wou 'n stukkie
vir my leesblog skryf, oor Michiel Heyns se nuwe roman en die ooreenkomste met Henry James se The Ambassadors, wat beteken dat ek weer laasgenoemde begin lees het, gedog dit sou net so 'n spoedlees wees, maar Henry James leen hom nou eenmaal nie tot spoedlees nie. Nou sal Heyns en James maar eers moet wag tot ek die vertaling gelees het...

Maandag 25 Junie 2012

Lyk al hoe meer asof ons die bekendstelling van Blou met Huisgenoot se jaarlikse Skouspel gaan kombineer. Weet nie hoe ek daaroor voel nie. Dankbaar vir die geleentheid om aan so 'n gróót Afrikaanse affêre gekoppel te word? Verleë oor ek nie die meeste van die 'bekende' sangers se werk ken nie? (En geamuseer dat die meeste van hulle seker ook nie my werk ken nie.) Nuuskierig, as 'n storieverteller en mensekyker, om so 'n geleentheid by te woon?

Whatever. Wat my gister gegooi het, was toe ek hoor Spekko, soos in rys, is die borg en ek moet dus iets met rys doen! Goddank ek het taamlik onlangs 'n kosboek gepubliseer, so daar is darem 'n regstreekse verbintenis met kos in my werk, want anders weet ek waaragtig nie hoe ek hierdie kloutjie by hierdie oortjie sou kon bring nie. Of die rys by die roman nie.

Wat mens ook nie alles sal doen om boeke te verkoop nie!


Dinsdag 12 Junie 2012

Wat 'n vreemde maand word dit nie. Voel soos 'n voëltjie wat uit 'n hok vrygelaat is, verwar deur al die vryheid, hunkerend na die hok. Van begin laas jaar af was Die blou van onthou my 'hok' – 'n lieflike blou hok, maar nogtans 'n hok – wat my weerhou het van ander boeke lees, ander stories skryf, ander dinge doen en dink. Nou's ek 'vry', terwyl ek wag vir die vertaling, en nie seker wat om met soveel vryheid te maak nie.

Internasionale Skool, Manosque, Frankryk 
Skryf rubrieke vir Sarie en stories vir Rapport, tob oor volgende boekprojek en beplan promosietoer vir Oktober, het selfs gister met 3 klasse van die Internasionale Skool in Manosque gaan praat oor die Engelse vertaling van Hanna Hoekom wat hulle vanjaar as een van vele voorgeskrewe boeke lees. So ek bly besig, maar...

Ek bly wagtend. Voel soos 'n swanger vrou in die negende maand. Alles is reg maar die baba is nog nie daar nie. So 'n simpel cliché om die skryf van 'n boek met die proses van swangerskap en geboorte gee te vergelyk, maar dis natuurlik omdat dit so onweerstaanbaar waar voel dat dit so 'n cliché geword het. Besef ek vanoggend weer.

Woensdag 23 Mei 2012 (Kaapstad)


Net voor ek vanaand terugvlieg na my Franse huis, het ek die blye nuus gekry dat Annelize klaar is met 'n eerste draft van die vertaling! Forget-Me-Not Blues sal beslis die Engelse titel word. En Lien het die mooiste foto's vir die omslag geneem! Weet nie hoe sy dit regkry nie. En Laura het klaar 'n paar moontlike omslae vir ons gewys. Ek glo ek kan met 'n geruste hart in die vliegtuig klim.


Sondag 20 Mei 2012 (Aurora)

Siel voel verkwik ná 'n paar salige dae op Aurora se lang stoep met 'n uitsig tot anderkant die ewigheid. Meestal met my proewe op die skoot, soms gesit en lees, soms net gesit en staar en dink en droom, maar darem tog reggekry om teen gisteraand deur die proewe te lees en die nodige korreksies aan te bring.

Dit stres my altyd om by hierdie stadium van 'n boek te beland, want dis amper die allerlaaste kans om nog te verander en te verbeter, en tog het ek ook al uit ondervinding geleer om nie teen die einde paniekerig te word en te veel te probeer verander nie. Die moeilikste, miskien, is 'to leave well alone'. Môre is ek terug in Kaapstad, dan oorhandig ek die dik stapel aan Riana, en dan kan ek sugtend verklaar dit is volbring. Wel, natuurlik nog nie heeltemal nie, nie tot die boek die dag in my hande lê nie. Maar ons is darem amper daar...

Vrydag 18 Mei 2012 (Aurora)


Ná die laaste foto's vir my boekomslag Woesdag in die stad geneem is, val ek en Riana en Laura (ontwerper van die omslag) by die eerste die beste restaurant in om gou 'n happie te eet – en toe ek die spyskaart oopblaai, sien ek tot my verstomming Portugese woorde en Portugese disse. Toe sit ons sowaar in 'n Portugese restaurant (Roberto's) net nadat ons aan die Portugese voorkoms van die omslag gewerk het. Wat noem mens dit? Sweerlik meer as blote toeval. Voel soos 'n soort sinchronisiteit. In elk geval 'n Goeie Teken, het ek in my siniese ongelowigheid besluit.

Woensdag 16 Mei 2012 (Kaapstad)

Fotosessiedag. Waarna ek erg opgesien het, maar wat toe op die ou end heel aangenaam uitgedraai het. Die fotonemery wat so deel van elke nuwe boek en promosietoer is, word vir my al hoe onlekkerder soos ek ouer word – en tog wil ek ook nie 'kroek' en 10 jaar gelede se foto's gebruik asof ek 'n ewig-jong Dorian Gray is nie.

Eintlik sou ek verkies dat die nuwe boek se omslag fotoloos bly, ek bedoel sonder 'n foto van my, dit skeel my nie watse ander foto's daarop gebruik word nie, maar die bemarkingsmense glo baie sterk dat my boeke beter verkoop as my gesig daarop verskyn, so. Die kompromis is dat hulle toe vir Lien Botha gevra het om die foto's te neem. As daar één mens is wat my op my gemak kan laat voel voor 'n kamera, is dit die liewe Lien.

Ons het die foto's in 'n galery in die stad geneem waar Liza Grobler se 'blou' tentoonstelling White Termite aan die gang is, Lien se blink idee, met mure wat dieselfde Griekse-Mexikaanse-Portugese blou geverf is as my kombuismure. Wat my summier tuis laat voel het! Buitendien was ek teen daai tyd al goed opgewarm, want vanoggend was daar ook 'n fotosessie in Johan Wilke se ateljee in Obs, dié keer vir die voorblad van Vrouekeur wat later vanjaar saam met 'n onderhoud oor my 'blou boek' sal verskyn. Johan was baie nice en het die foto's vinnig geneem, maar o jimmel, die make-up en hare en verskillende outfits het dekades in beslag geneem.

Maar nou ja, nou's al die fotosessies sommer op een dag afgehandel en ek het 'n hele lêer vol promosiefoto's uit die deal gesscore. Nou ry ek Aurora toe met my (dik!) stapel proewe in my tas om rustig by Pa se huis te gaan werk...


Sondag 13 Mei 2012 (Franschhoek)



Lekker leesfees gehou, baie bekendes raakgeloop en nuwe boekvriende gemaak. Môre moet ek by WAT se kantoor op Stbosch foto's laat neem vir die Borg 'n Woord-projek waarvan ek van Oktober af as 'n soort 'beskermvrou' sal optree. Toe ek laas jaar ingestem het om my naam aan Borg 'n Woord te laat koppel, het ek nog nie geweet dat dit in Oktober vanjaar aangekondig gaan word nie. Nou voel dit soos 'n besonder lekker toeval, dat dit so saam met die nuwe roman se verskyning gebeur.

Woensdag 9 Mei 2012 (Parys)



Saam met sus in Parys voordat ek vanaand via Dubai na SA vlieg om te gaan boeke smous op die Franschhoekse leesfees. En 'n bietjie voorbrand te maak vir Die Blou van Onthou. Foto's wat geneem moet word, 'n paar onderhoude, planne vir die promosietoer in Oktober wat met die uitgewerspan bespreek moet word. Die boek begin nou waaragtig 'n werklikheid word. Ek sal nie gerus voel voordat ek die bladsyproewe gelees het nie – wat ek hopelik ook sal kan doen terwyl ek in die Kaap is. Nee. Ek sal hopelik darem ietwat meer gerus voel nadat ek die proewe gelees het, maar houtgerus, nee wat, dis 'n toestand wat my nog nooit voor die verskyning van enige van my boeke getref het nie.




Saterdag 21 April 2012


Nie verwag om so blitsvinnig die finale gekorrigeerde ms van Riana terug te kry nie, maar daar lê dit toe sowaar teen gisteraand in my Inbox. Weer 'n keer deurgelees om 'n algehele indruk te kry. Voel versigtig positief?

Presies 'n jaar gelede het ek die 1ste 'herskryf' van die 1ste 5 hfstkke voltooi, sien ek vanoggend toe ek terugkyk na hierdie blog. So far so good, as the falling (wo)man said. Wel, teen dié tyd het my valskerm darem al oopgevou - ons is selfs al besig om 'n omslag te ontwerp! -  maar ek weet steeds nie of dit 'n sagte landing gaan wees en of ek 'n paar bene gaan breek as ek die harde grond tref nie. Weet mens ooit? 

Thursday

Donderdag 19 April 2012

Net toe ek dog nou gaan dit amper te goed om waar te wees met die laaste korreksies... toe word dit te goed om waar te wees. Weens my tegnologiese onnoselheid het ek iewers op iets geklik wat die hele editing-program beduiwel het, al Francois se kantlynaantekeninge doodgetrek het en al my eie kantlynaantekeninge heeltemal uitgewis het! Francois het probeer verduidelik hoe ek dit kan probeer herstel, maar omdat my rekenaar blerrie Frans praat, vind ek nie die funksies wat hy op hulle Engelse name noem nie, en ek het ure en ure gemors en einde ten laaste moedeloos opgegee en al my aantekeninge oorgeskryf, op die ms, duidelik gemerk met blokhakies en my voorletters. Nou moet alles op die laaste oomblik met die hand uitgewis word sodat dit nie per ongeluk op die proewe beland nie!

Maar genoeg gekla. Dis gedoen en laat gisteraand weggestuur, na Francois en Riana. Sela.

Sondagaand 15 April 2012


Hele naweek aan Colette se e-posse gewerk. Uitdaging is om Tina te antwoord sonder om die uitkoms van die storie vroegtydig te verklap. Die leser hoef slegs te weet Colette skryf aan 'n kleinkind wat een of ander iets soek in Portugal. Dit hoef nie duidelik te wees presies wie die kleinkind is of wat sy daar doen nie. Miskien wil sy daar gaan woon, miskien soek sy haar ma, miskien soek sy haar oupa. Dit moet beslis ook nie duidelik word wat sy vind of wat sy besluit om te doen nie. Dít moet die leser eers teen die einde vasstel.

En tog is ek verstom hoe elkeen van Colette se antwoorde die krummels van 'n vorige hfstk kan optel en dan nog krummels kan strooi om die leser tot by 'n volgende hfstk te lei – asof ek dit van van die begin af so beplan het. Tina se 'bevel' (speak now or forever hold your peace) wat Colette aan die trouformulier herinner net voor die hfstk oor Ouboet se troue, om maar een voorbeeld te noem.

Donderdag 12 April 2012

En toe gee Francois vir my die klein byltjie waarmee ek my pad deur hierdie bos kan oopkap! Eintlik het hy 'n hele paar voorstelle gemaak, maar die een oor e-posse het dadelik 'reg' gevoel. Waarom nie vir die bejaarde Colette 'n paar e-possies laat skryf nie, om haar van die begin af as verteller-soeker vir die leser te vestig, en terselfdertyd ook rigting te gee aan haar herinneringe? Dat die spesifieke episodes wat sy onthou, op 'n manier verantwoord word?

En daar's 'n verdere voordeel, begin ek nou besef. As Colette se e-posse gelees kan word as antwoorde op Tina s'n (wat heelwat later volg), kry die leser nog 'n paar verlore stukkies van die legkaart. En so word die sirkel dan heeltemal voltrek teen die einde. Toe ek weer na Tina se e-posse kyk, sien ek daar's presies 9 wat beantwoord moet word – en ek het presies 9 e-posse vir Colette nodig om tussen die 9 hfstkke van die 1ste afdeling te plaas. Mens sou sweer ek het dit so beplan, nè.

Dalk het my onderbewuste reeds iets geweet, toe ek Tina se e-posse geskryf het, wat my verstand nog nie gesnap het nie. Hoeveel keer was ek nie al verstom deur die werking van die onderbewuste gedurende die skryfproses nie?

Dinsdag 10 April 2012


Tel steeds die ure terwyl ek vir die gekorrigeerde ms wag. Om my aandag af te lei (en my stres te verminder, helaas, vergeefs) begin ek oor my volgende stories wonder. Altyd gesê die dag as ek by die finale afronding van 'n ms kom sonder dat ek reeds meer as een idee vir 'n volgende storie het, sal ek weet ek moet ophou skryf. 

Darem nog nie daar nie. 

Ek kry lus om weer 'n jeug-verhaal te skryf. Dalk 'n opvolg vir Hanna Hoekom? Ek kry lus om weer 'n slag my rubrieke en persartikels bymekaar te bring in 'n bundel, aangevul deur nuwe skryfsels, iets in die lyn van Franse briewe en Die hart van ons huis. Ek kry selfs lus om weer na daardie onvoltooide toneelstuk in my laai te kyk, dit in iets veel kleiner met net 1 of 2 akteurs te verander. Nie 'n enkele aktrise nie, nie lus om 'n eenvrouvertoning te skryf nie, daar's heeltemal genoeg daarvan in omloop. Maar miskien 2? Of anders 'n draaiboek daarvan te maak?

En ek kry lus om 'n volwasse roman met 'n manlike hoofkarakter te skryf, glo dit of nie, die hele storie deur 'n man se oë te vertel. Dit het begin as 'n grap, omdat ek vir iemand gesê het soms word ek gatvol van 'vroueskrywer' wees, en toe skryf ek 'n spottende rubriek daaroor vir Potch se studentekoerant, wat ek dalk ook kan uitbrei om 'n rubriek vir Sarie te word. My slotsom was nee, ek sal eerder aanhou om 'net 'n vroueskrywer' te wees as om 'net 'n manskrywer' te word. Of so iets. Natuurlik tong in die kies. Maar nou's daar 'n saadjie in my kop geplant wat dalk net 'n baie aspris klein boompie kan word...

Woensdag 4 April 2012

Só gehoop ek kry die geredigeerde ms terug van Francois vóór die Paasnaweek - sodat ek weer daaraan kan werk terwyl alles nog vars in my kop is - maar ek wil ook nie hê hy moet daardeur jaag nie, daarom het ek hom vandag laat weet ek gee nie om om nog 'n week te wag nie. Intussen het hy laat weet hys stééds nie oortuig dat die eerste deel so goed is soos dit kan wees nie en hy wonder of ek nie Colette se Portugese joernaalinskrywings moet terugskuif na die einde van die 1ste deel waar dit aanvanklik was nie?!?

April beteken die kersiebome agter ons huis begin bot
Nou moet ek die langnaweek gebruik om diep en deeglik te besin oor hoe ek Colette se deel kan verbeter. Maar teen hierdie tyd is my hande in my hare. Natúúrlik kan dit beter wees, álles kan áltyd beter, maar hóé kry ek dit beter?!? I can't see the forest for the trees. Ek sien nie meer die hele storie nie, ek sien net woorde, woorde, woorde. Verdwaal in my eie woorde, dis hoe ek voel. Grietjie in 'n bos van woorde.

As Francois nie met 'n praktiese voorstel vorendag kan kom nie, weet ek waaragtig nie hoe ek ooit uit hierdie bos gaan ontsnap nie, behalwe as ek alles om my begin afkap, en só wanhopig is ek darem nog nie.

Vrydag 30 Maart 2012

Ek's te bang om dit hardop te sê en nog meer om dit te skryf, netnou jinx ek als, maar ek moet dit tog hier op papier fluister, so alles in een asem: ekdinkditwerkdiékeer. Toe nou, Marita, bietjie meer moed. Goed: Ek dink dit werk dié keer. Redakteur meen die ms lees nou soos 'n droom en die redigeerder het laat weet hy voorsien nie te veel verdere veranderinge nie, behoort binne 'n week die ms vir my terug te stuur vir die laaste korreksies. En albei meen die vertaler kan maar begin vertaal...

Dis tog heerlike nuus, is dit nie? Nou hoekom is ek dan so blerrie bang?!? Seker maar omdat die klaarkry van 'n ms my altyd laat voel asof ek my vel verloor het, asof ek 'n ruk lank so velloos en weerloos moet rondloop tot ek weer 'n nuwe vel kry, en dis nou eenmaal nie lekker om sonder vel te lewe nie. En die hemel hoor my, dit word nie makliker ná verskeie boeke nie. Inteendeel.


Intussen het die eerste voorstelle vir omslae reeds gekom. Ek dink ons het die Engelse omslag. Oor die Afrikaanse ene, wat duurder kan wees omdat die oplaag groter is, huiwer ons nog. Maar dis altyd opwindend om te sien hoe 'n ms oplaas 'n boek begin word, 'n voorwerp wat op 'n boekrak kan staan eerder as net 'n klomp woorde op 'n rekenaarskerm, en dis nou aan die gebeur. En dit help darem ook om my minder velloos te laat voel.


Woensdag (douvoordag) 21 Maart 2012

Nou het ek gedoen wat ek kan doen aan die ms, chronologie verander en volgordes van hfstke omgegooi, geskrap en geskuur en selfs 'n bietjie bygeskryf ook. Meer uitgehaal as bygelas, darem, baie streng met myself gebly om die ms dunner eerder as dikker te maak. En nou gaan ek dit vir Riana stuur. Nóú. So kom ons om so kom ons om so kom ons om.

Met elke boek wat ek nog gepubliseer het, kom daar 'n oomblik vóór publikasie wanneer ek voel of ek absoluut hoegenaamd géén oordeel meer het oor wat ek geskryf het nie. Wanneer ek so opgeslurp is deur die teks dat ek nie meer soos die skrywer daarvan voel nie, maar eerder soos een van die karakters in die teks, dat ek niks meer kan behéér nie, dat ek nou my arms moet oopvou en alles laat gaan. Dis waar ek nou is. Jy maak nooit klaar met 'n roman nie, you have to abandon it. Soos Elsa Joubert baie jare gelede vir my gesê het. I'm now abandoning this one.

Natúúrlik sal ek steeds daaraan werk nadat die redakteurs dit weer gelees het. Maar ek het nou leiding nodig. En ek is so poegaai ek hoop met my hele hart dat daar nie té veel verdere werk nodig sal wees nie.

Sondagaand 18 Maart 2012


Nog Woordfeeskiekies - Karin en Terry 
Laaste aand van Woordfees saam met Melt geëet 
Kan dit wees? Besef so pas dat ek presies 'n jaar gelede my eerste blogstukkie oor hierdie ms geskryf het. Wat toe nog nie 'n ms was nie, net 'n kraaines van moontlikhede wat ek al skrywend moes uitpluis. En nou is dit al amper-amper 'n boek. Bly tog iets van 'n wonderwerk, die hele proses, hoewel ek dit haat om misties en metafisies oor 'die skepping van 'n boek' te klink. Want op die ou end bly dit, meer as enigiets ander, doodgewone sieldodende harde werk.

Soos ek nou weer kan getuig. Van ek vandeesweek van die Woordfees teruggevlieg en voor my rekenaar kom sit het, het ek nog nie weer opgestaan nie. Of so voel my arme boude. En my seer rooi oë. Werk, suster, werk. Vergeet van klaarkry met lekkerkry. Al wat nou oorbly, is swaarkry. 

Dinsdag 13 Maart 2012 (Kaapstad)

Laaste aand van literêre dinge gisteraand toe die wenner van Tafelberg se groot romanwedstryd in Kalkbaai aangekondig is. Laaste oggend van luilekker kuier in Maré se kombuis voordat ek terugvlieg om die laaste skof van my ms aan te pak.

Vol nuwe moed en begeestering ná Kimberley en Stbosch, daardie broodnodige kontak met ander skrywers en lesers en boekmense, sjoe, dit het op presies die regte oomblik gekom. Intussen ook my nuwe titel op my Facebook-groep se muur getoets – en die reaksie is oorweldigend juigend en jubelend ja, ja, ja!

Vrydag 9 Maart 2012 (Stellenbosch)

'n Drukkie van my buiteleser Petra
As Petra praat, luister jy... 

En toe sak die titel soos 'n Bybelse duif op my neer terwyl ek na 'n groep digters by die Woordfees sit en luister. Louis Esterhuizen het gepraat oor die skep van akwarelle, en iets gesê soos: die verf wat op die papier agterbly nadat die water opgedroog het, is die water se geheue. En dit was vir my so 'n lieflike beeld dat ek skoon dromerig geraak het. En toe dink ek aan geheue en aan onthou en aan my storie se titel, aan die blou azulejos in die storie en aan fado en saudade en daardie 'liefde wat bly' nadat die onderwerp verdwyn het. En toe kry ek dit: Die blou van onthou.

Toe ek vanmiddag saam met Riana en Laura (wat die omslag moet ontwerp) 'n drankie drink, het ek dit met my hart in my keel op hulle getoets. En hulle het ook dadelik saamgestem, ditsem, ons hét dit. Daarmee kan Laura 'n blou omslag skep om oor te droom.