Thursday

Woensdag 25 Mei 2011

Broer werk hard buite aan die huis, ek werk hard binne aan my storiehuis. En ons albei vorder fluks.
Laas week het hy die vensterrame en hortjies op die onderste verdieping afgeskuur en geverf, krake gevul en mure geverf; vandeesweek het ons 'n laaaang leer geleen sodat hy die boonste verdieping kan takel. Die moeiliker bereikbare deel. En in my storie is ek ook nou by die moeiliker bereikbare deel. Die Portugese reisjoernaal, die ek-verteller, die aanhoudende gesoek op internet na feite, feite, feite. 


Maar een of ander tyd die afgelope naweek het 'n titel by my opgekom. Tot dusver was die werkstitel mos maar net Fragmente of Drie vroue, en toe dink ek skielik aan Onthou jy. Sonder vraagteken, amper soos 'n bevel. Of Wat jy onthou. Of in elk geval iets met die woord 'onthou', dit het daardie dubbele betekenis en klanksuggesties van die soort titel waarvan ek die meeste hou, soos Vergenoeg of Bestemmings. Onthou soos in geheue en onthou soos in die onthouding van iets, om weg te bly van iets, of selfs iets soos die teenoorgestelde van 'hou'. As jy nie meer van iets hou nie, dan 'ont-hou' jy dit?

No comments:

Post a Comment