Thursday

Woensdag 27 Julie 2011


Playing boules and playing the fool
As 'n skrywer nie tyd kry om te skryf nie, is dit darem 'n soort troos om gesprekke oor die skryfkuns met ander skrywers te voer. Daarom was dit lekker om Annemarie en Jaap hier te hê, en 2 aande saam met Irna-hulle te kuier. Sondag toe almal weg is, moes ek stapels beddegoed en handdoeke was voordat die volgende lot gaste opdaag, maar van Maandag af kry ek dit sowaar weer reg om 8 uur 'n dag voor my rekenaar te sit – al kuier Alain se ouers en sus van Dinsdag af hier.

Ek is klaar met 1969 en het gister heeldag info ingesamel om te begin met 1973. Wou iets met die Twin Towers doen omdat die World Trade Center amptelik ingewy is in April '73. Dog eers ek sal Nandi en haar gesin in die restaurant (Windows on the World) laat eet, maar kom toe agter die resto is eers teen '75 oopgemaak. OK, dog ek toe, dan laat ek hulle maar na die observation deck op die 107de verdieping gaan – en toe kom ek agter dié is eers in '74 oopgemaak! Dit net nadat ek die wonderlikste toeristevideos oor die WTC in die sewentigs op YouTube opgespoor het, die hysbakke, die uitkykdek, die mense, die kleredrag, allesallesalles, asof jy self daar is.

Toe besluit ek om te vergeet van die torings, dit kan net as agtergrond dien, Nandi-hulle kan dit in die verte sien en iets daaroor sê, maar dit beteken ek moet bietjie navorsing doen oor winkels want Nandi en haar ma sal sekerlik by die beroemde Manhattan-winkels wil shop. En toe dog ek aangesien die toneel laat in die jaar afspeel (toe die eerste wêreldwye petrolkrisis al aan die gang was), kan ek mos Macy's se beroemde Thanksgiving Day Parade gebruik. En toe slaan ek weer eens die jackpot op internet.

Fantastiese amateurfoto's en videos uit die jaar 1973 waarop mens die vlotte, die ballonne, die toeskouers, selfs die weersomstandighede kan sien. (Bibberkoud en grys. Party ander jare was die lug verrassend blou vir laat November. Dit alles en nog veel meer het ek vanmiddag danksy 'n skatkis van beeldmateriaal op internet geleer.) 

Nou's ek reg vir die volgende hoofstuk: Nandi en haar ouers wat Thanksgiving-naweek in New York deurbring, Macy's se parade bekyk, inkopies en sightseeing doen. Dit alles gemeng met Nandi se gewaarwording dat sy besig is om afskeid te neem van iets, die VSA, 'n leefwyse, haar kinderjare, miskien selfs haar verhouding met haar ouers. Maar tog ook 'n opgewondenheid oor die komende tienerjare en die terugkeer na SA.

No comments:

Post a Comment