Friday

Woensdag 15 Augustus 2012

Vandag is daardie vreemde Katolieke vakansiedag wat ek, soos Colette, nog nooit werklik verstaan het nie. In my pa se Protestantse Bybel was daar geen sprake van enige Maria wat hemel toe gevaar het nie. Maar op die vakansiedag van 15 Augustus, 1960 en 2007 onderskeidelik, was Colette en Tina darem met vakansie in Portugal. Terwyl ek op die vakansiedag van 15 Augustus 2012 by my lessenaar in my snikhete kantoor sit en werk. Soos gewoonlik, wil ek amper uitroep, oorval deur selfbejammering.

Laas week was dit Vrouedag in SA, toe kon ek g'n lewende of dooie siel op kantoor kry om my e-posse te beantwoord nie. En nou's dit hierdie onverklaarbare vakansiedag in Frankryk en Portugal en wie weet waar orals in Europa, en almal om my hou vakansie, al die winkels en kantore is toe, strate verlate en strande vol – en ek sit en werk! Natuurlik voel ek jammer vir myself! Moet teen vanaand die laaste geredigeerde deel van die  vertaling terugstuur na Riana toe sodat die hele spulletjie teen die naweek in proewe omgetoor kan word.

Maar as ek laas week gedog het die hitte is erg... Die hele land is nou amptelik in die kloue van 'n canicule,  hittegolf aangekondig deur die regering en die weerburo, met temperature rondom 40 grade C vir die volgende paar dae voorspel. En 40 grade C in Frankryk is véél erger as 40 grade C in SA, want dis so buitengewoon dat die mense op 'n streep omkap omdat hulle nie weet hulle moet water drink as hulle warm kry nie. Nou word daar elke dag oor die radio en op TV advertensies gespeel om mense te herinner om water te drink. Red nou 'n volk.

Vrydagaand 10 Augustus 2012

Mia is terug van haar kuier by die skoonfamilie in die noorde, steeds hartseer oor haar verlore katjie, maar tog ook opgewonde oor haar kuier volgende week by haar maatjie se vakansiehuis in die Pyrennees. Ek moet taxi speel, natuurlik, ses uur se ry soontoe, die nag oorslaap en ses uur se ry terug. Wou eintlik ook by die Brownes in Lasseube 'n draai gaan gooi het, maar dit gaan nie uitwerk nie want ek mis klaar 2 dae se werk met hierdie rondryery en ek kan dit eintlik glad nie in hierdie stadium van die wedstryd bekostig nie. Dis presies die 2 dae wanneer die Engelse redakteur die laaste deel van die vertaling na my sal terugstuur vir finale goedkeuring. Hoe gouer ek weer agter my lessenaar kan inval, hoe gouer kan ons die vertaling by die drukkers kry.

Mirepoix - naby waar ons Mia moet gaan aflaai
As ek vir Alain kon gestuur het om vir Mia te karwei, kon ek by die huis gebly het om te werk, maar hy het pas die laaste skof van sy 'straf' vir laas jaar se verkeersoortreding begin uitdien. Minstens drie maande sonder rybewys wat vir hom voorlê. Oor 2 weke moet hy weer in die hof verskyn en dan sal ons weet hoe lank dit gaan wees voordat hy weer mag bestuur en of hy 'n boete ook nog moet beaal of tronk toe moet gaan of wat de hel verder gaan gebeur. Intussen lewe ons in onsekerheid en hoop en ongeloflike stres. Nie wat ek nou nodig het nie.

Sondagmiddag 5 Augustus 2012

En terwyl die Olimpiese marathon op TV onder in die huis gehardloop word, is ek hier bo in die pylvak van my eie verdomde marathon. Weet presies hoe daardie arme uitgeputte atlete voel. Die gees wil aanhou, maar die lyf kán net nie meer nie.

Ek wil huil van moegheid, maar die einde is in sig. Klaar met die laaste deel van die vertaling, asook die erkennings wat agter in die boek moet kom, nou nog net 'n paar ongerymdhede in die vorige 2 dele uitstryk. Korreksies wat ek in die 3de deel aangebring het, wat beteken dieselfde woord of frase moet ook in die vorige dele verander word, of in kursief gedruk word, of wat ook al.

Ek mik nie vir enige soort medalje nie, te moeg vir sulke ambisies, ek mik nou net om klaar te kry.

Vrydagaand 3 Augustus 2012

Ek wou só graag vandag klaarkry met die vertaling sodat ek die naweek kan rus. En sport kan kyk. Ja, selfs 'n onsportiewe siel soos ek word geroer deur die Olimpiese malligheid in Londen. Maar die hitte het my vandeesweek ondergekry.

Dis ergergerg hitsig en my kantoortjie voel elke uur meer soos die oond waarin die Bybelse Daniel en wie nou weer nog moes vertoef. Ek trek die hortjies toe teen die son en skakel die outydse elektriese waaiertjie aan, maar die patetiese dingetjie waai vir al wat hy werd is sonder om enigiets reg te kry. Behalwe om 'n helse geraas te maak. Wat enige vorm van konsentrasie net nog moeiliker maak.

So nou gee ek op om iewers – waar?!? - te gaan afkoel. Nog sowat 30 bladsye van die vertaling oor om op my rekenaar te check, maar dit sal oor die naweek gedoen moet word. Goddank dit was nie laas jaar Augustus só warm nie, want toe was ek pal aan die skryf, g'n ontsnapkans uit die kantoor nie. Of dalk was ek so besiel deur die skrywery dat ek nie die hitte gevoel het nie? En noudat ek besig is met die sieldodende oorlees en oorlees en wéér oorlees, nou gryp ek na enige moontlike verskoning om uit die kantoor weg te kom?


Donderdag 2 Augustus 2012


 
Gisteraand 'n volmaan-jogasessie in die verlate ruïne van 'n twaalfde eeuse klipkerkie belewe. Ja, ek weet, dit klink verdag misties, maar dit was presies wat ek nodig gehad het om my moed te gee vir die laaste stuk pad wat ek met hierdie ms moet stap. Ons het joga gedoen terwyl die son sak, daarna 'n ruk rustig gemediteer, en toe 'n magiese piekniek geniet terwyl die vol maan agter die vervalle toring van die kerk opkom. Nou sien ek sommer weer kans vir die derde deel van die vertaling wat ek voor die naweek moet deurwerk.


Dinsdag 31 Julie 2012

Maar hopelik sal die boek nie heeltemal flop nie, so dink ek nou weer nadat ek 'n besonder bemoedigende e-pos van die Nederlandse vertaler Riet de Jong-Goossens gekry het. Sy't pas die Afr ms gelees en hou sommer baie daarvan en gaan dit beslis aanbeveel vir 'n Nederlandse vertaling, joegaai!


En wat die Engelse vertaling betref, is die wenstreep darem ook eindelik in sig. Die sportmetafoor is nie toevallig nie. Annelize het belowe sy stuur die laaste deel vóór die openingseremonie van die Londense Olimpiese Spele, want sy wou haarself beloon deur 2 weke lank ongesteurd TV-sport te kyk. En sowaar, teen Vrydagmiddag, enkele ure voor die skouspelagtige openingseremonie (wat ek gemis het omdat ek eerder 'n kunsmuseum in Montpellier wou besoek), was die laaste deel van die vertaling hier. Toe moes ek net wag dat Riana en Danita vir my die 'korrekte' tipografiese weergawe stuur sodat ek daarmee kan werk, en gisteroggend kon ek soos 'n geoefende atleet wegspring.

Kyk so met een oog na die Spele terwyl ek werk, maar meestal probeer ek van sport vergeet, gelukkig nie té moeilik vir so 'n onsportiewe siel soos ek nie, en konsentreer op die Engelse teks wat teen die einde van die week na die redakteur gestuur moet word...

Maandag 30 Julie 2012

Riana het die bandteks wat in die binneflap van die boek moet kom, vir my gestuur sodat ek dit kan goedkeur. Dis altyd vir my 'n embarrassing affêre, te veel van jakkals prys haar eie stert as ek dit self moet skryf, maar ek waardeer dit tog om insae te hê in wat iemand anders geskryf het. In hierdie geval het ek die geraamte behou, maar bietjie van die vet afgesny en die vleis effens anders aangebied.
Die foto wat gekies is vir die agterblad

Ek wil nie hê die bandteks moet onnodige besonderhede weggee nie, soos wie presies die eerste brief aan Colette skryf en waarom dit geskryf is, of wat later van Nandi word nie. Dis wat die leser in die loop van die boek moet leer. Ek wil ook nie hê daar moet té veel klem geplaas word op 'die storie van 3 vroue' nie, want dan skrik potensiële manslesers weer so groot dat hulle nie verder as die bandteks lees nie. Ek wil eerder beklemtoon dat dit oor 'n familie gaan, oor 'n taal en 'n plek, oor hoort en nie hoort nie. En natuurlik ook oor 3 vroue van 3 verskillende geslagte. 

Gister ook die finale prentjies van die omslag met die flappe en die loergaatjie gesien – en al wat ek in hierdie stadium kan sê is, selfs al flop die boek, sal dit nogtans 'n móói flop wees. Onder die mooiste omslae wat ek in 'n lang tyd gesien het. My onbeskeie en erg subjektiewe mening.