Wednesday

Woensdag 24 Oktober 2012

Die blou boek is op die rak, ondanks die stakings wat alles vertraag het, die blou bemarkingstoer het voorspoedig verloop, en my blou blog is op internet beskikbaar. Oop en bloot vir almal om die storie agter die storie te lees. Ek verstaan nie waarom sommige van die foto's wat ek gepos het, 'verdwyn' het nie. Seker iets wat opgelos kan word, maar ek het nie nou die krag daarvoor nie. Wil nou eers groet, wegkom van die kleur blou, swig voor iets rustiger soos wit. Wit soos stilte en slaap, wit soos drome en dink, wit soos die winter wat aan die kom is, wit soos leë bladsye wat met woorde gevul moet word... Die wit van wegraak, dis waarna ek nou verlang.

Woensdag 26 September 2012



Voila! Die blou boek het opgedaag, got the picture to prove it, en soos gewoonlik ervaar ek `n mengelmoes van verligting en trots en iets vreemder, amper `n soort antiklimaks. All that for this?! Amper 2 jaar van pyn en lyding vir so `n eenvoudige voorwerp van papier. So `n brose ding bly `n boek darem. Gooi dit in `n vuur en poef, net as en rook bly oor.

Nee, ek`s nie swartgalllig nie, eintlik nogal heel opgewonde. Dis net, wel, soos dit is. 'Vergeet van Mao se Klein Rooi Boekie', het ek gister op my Facebook-groep se muur gespog. `Koop eerder Marita se Groot Blou Boek.' Eben vandie uitgewer se bemarkingspan praat van die blou golf wat die land gaan tref. Mog het troffe, prewel ek in  my binneste. Mog het troffe!

Maar daar`s mos altyd ook `n bietjie ongeluk by die geluk - anders was ons seker klaar in die hemel? - en hierdie keer is dit `n staking by die drukkery. Wat beteken die boek is nie die naweek in die winkels soos beplan nie, maar eers teen volgende naweek. Wanneer my SA promosietoer reeds aan die gang sal wees! En die vertaling sal eers op 8 Oktober beskikbaar wees! Drat en zut en verdomp. Maar nou ja, help nie ek ontstig my daaroor nie, woon gelukkig al lank genoeg in die staakmal Frankryk om te verstaan van stakings. Que sera sera?

Thursday

Donderdag 19 September 2012

Wanneer is die storie agter die storie van 'n boek klaar geskryf? Want as ek die boek eindelik in my hande kan vashou as 'n soliede voorwerp, dan gaan die storie agter die skerms natuurlik nog aan...

Maar dan word dit ook al weer tyd vir die volgende storie agter die volgende boek.

Die Meisie(s) van Avignon
Ek het besluit ek sal hierdie joernaal staak sodra ek Die blou van onthou in my hande het - en dit gaan hopelik baie binnekort gebeur, dalk nog voordat ek vroeg volgende maand SA toe vlieg vir die promosietoer. Terwyl ek laas week my lyf toergids gehou het om van my rekenaar weg te kom en 'n ekstra inkomste te verdien, terwyl ek iewers tussen Parys en Avignon rondgetoer het, het Riana laat weet die boek het op haar lessenaare geland. En dit lyk pragtig, meen sy, en sy pos summier vir my 'n paar kopieë. En ek hou duimvas dat hulle blitsig opdaag, dan kan ek hier amen sê en 'n ander storie begin.

Friday

Vrydag 7 September 2012


Uiteindelik is die laaaang somervakansie verby en vir die eerste keer in amper 3 maande kan ek weer stoksielalleen in salige stilte by die huis sit en werk. Voel amper effe teleurgesteld dat die allerlaaste korreksies aan die finale proewe van die vertaling vroeër vandeesweek afgehandel is. Maar nou moet ek my tassie pak om vroeg môre-oggend na Parys te vertrek, waar ek 'n SA toergroep gaan ontmoet om tot volgende naweek toergids te speel. 


Gister my vliegkaartjies vir die promosietoer ontvang en al die optredes in die noorde, Bloemfontein en Stellenbosch is bevestig. Laat die sirkus begin, hierdie perdjie ken mos nou al haar passies. 

En van sirkus gepraat, dis weird om op die ouderdom van 50 plus vir die eerste keer 'n vrouetydskrif se 'voorbladnooi' te word. Ja, die befaamde uitgawe is volgende week op die rak. Toe 'n vrouetydskrif my 20 jaar terug op 'n voorblad wou hê - toe ek nog jonk en onskuldig genoeg was om  heel skaflike voorbladmateriaal te wees - het ek verskrik geweier omdat ek gedog het niemand in die boekwêreld sou my ooit weer ernstig opneem nie.
Nou's ek gelukkig lankal verby die stadium waar ek myself ernstig opneem, so ek beskou dit as net nog 'n nuwe ondervinding. En as die voorblad en die hoofonderhoud binne-in die tydskrif 'n paar mense kan oorreeed om my boek aan te skaf, dan's dit natuurlik net nog beter. 

Vrydag 31 Augustus 2012

Uiteindelik! Gister die volledige proewe van die vertaling gekry! Maar voor ek te opgewonde word, moet ek myself herinner dat ek nou wéér 'n keer die hele storie van voor tot agter moet lees. Teen dié tyd behoort ek lang dele daarvan uit my kop uit te kan opsê...

Saam met die proewe gister het die fantastiese nuus gekom dat die Afrikaanse én Engelse weergawes gekies is vir Exclusive Books se gesogte Lys (The List). Diep dankbaar, want dit beteken in al die EB-takke landwyd sal Blou en Forget-Me-Not baie sigbaar uitgestal word. Die soort blootstelling waaroor mens maar net kan droom vir 'n nuwe roman.

O ja, en die Engelse omslag is ook gefinaliseer. Ek het die stryd verloor om my eie gesig van die agterblad af te hou. Die pragtige blou teëls word nou na die agterste binneflap geskuif.

Saterdag 25 Augustus 2012


Die laaste - hopelik die laaste! - vrae van proefleser Jo-Anne wat ek vinnig moet antwoord. Sy't  'n oog soos 'n arend om onreëlmatighede te spot, dank die hemel daarvoor. As daar enige foute oorbly in die ms, nadat ek en Riana en Francois en die buitelesers en Annelize die vertaler en Mad die Engelse sub en die onderskeie proeflesers almal elke bladsy gefynkam het, sal dit verstommend wees. En tog weet ek ook daar's altyd iets wat deurglip, dit moet ek seker maar by voorbaat aanvaar.

Alain was toe Donderdag in die hof en die beslissing is hy mag eers oor 4 maande weer sy rybewys terugkry. Bummer. Maar dit kon ook 5 jaar gewees het. Of die regter kon besluit het dat hy nooit weer mag bestuur nie, aangesien hy nou as 'n 'gewoonte-oortreder- op die pad beskou word. 

Darem bietjie getroos gevoel toe ek dieselfde dag 'n bewonderende boodskap op my Facebook-groep se muur kry van 'n skilder wat stillewes skep met my boeke op. Besef toe dis dieselfde Mariaan Kotze by wie my sus 'n paar jaar gelede 'n skildery gekoop het omdat een van my romans daarop was! Soos 'n herontmoeting gevoel. 



Vrydag 17 Augustus 2012

En die kat kom weer! Mia se katjie is terug nadat sy amper 'n maand weg was en ons almal moed opgegee het dat ons haar ooit weer lewend gaan sien! Ek het dadelik na die Pyrenees gebel om vir Mia die blye nuus oor te dra. Sukkel nog om te glo dat so iets wonderbaarliks so onverwags kon gebeur. Miskien, sê ek vir myself, miskien is ons geluk besig om te draai? Want ek het waaragtig nou weer 'n stukkie doodgewone outydse good luck nodig om my te laat glo dat Alain se hofverskyning volgende week voorspoedig gaan verloop. 
Intussen is Eben by Tafelberg besig om die planne vir die promosietoer in Oktober te finaliseer – my optredes by Huisgenoot se Skouspel word reeds op my Facebook-groep se muur geadverteer – en Eldaleen van Vrouekeur het laat weet die uitgawe met my bakkies op die voorblad gaan volgende week drukkers toe. O hel, dis bitter om op my bejaarde ouderdom vir die eerste keer 'n 'voorbladnooi' te word. Met my vorige boek het ek Leserskring se voorblad gehaal, maar dit tel nie rêrig nie want dis nie 'n regte tydskrif wat orals in winkels en kafees rondlê nie. Dank die hemel ek is nie in SA nie, dis al wat ek kan sê. Ek sou dit acutely embarrassing vind om in my eie glimlag op die voorblad vas te kyk elke keer as ek brood of melk by 'n kafee gaan koop. Sou waarskynlik verkies om 'n week lank sonder brood of melk klaar te kom en soos 'n kluisenaar in my huis weg te kruip tot die volgende uitgawe van die tydskrif verskyn.