As jy meer wil weet oor die swaarkry en die lekkerkry agter die klaarkry van 'n roman, lees Marita van der Vyver se joernaal oor die skryfproses van 'Die blou van onthou'. Vir die volle storie kan jy ondertoe duik tot by Maart 2011 en dan so lees-lees terug boontoe swem...
Wednesday
Woensdag 24 Oktober 2012
Die blou boek is op die rak, ondanks die stakings wat alles vertraag het, die blou bemarkingstoer het voorspoedig verloop, en my blou blog is op internet beskikbaar. Oop en bloot vir almal om die storie agter die storie te lees. Ek verstaan nie waarom sommige van die foto's wat ek gepos het, 'verdwyn' het nie. Seker iets wat opgelos kan word, maar ek het nie nou die krag daarvoor nie. Wil nou eers groet, wegkom van die kleur blou, swig voor iets rustiger soos wit. Wit soos stilte en slaap, wit soos drome en dink, wit soos die winter wat aan die kom is, wit soos leë bladsye wat met woorde gevul moet word... Die wit van wegraak, dis waarna ek nou verlang.
Woensdag 26 September 2012
Voila! Die blou boek het opgedaag, got the picture to prove it, en soos gewoonlik ervaar ek `n mengelmoes van verligting en trots en iets vreemder, amper `n soort antiklimaks. All that for this?! Amper 2 jaar van pyn en lyding vir so `n eenvoudige voorwerp van papier. So `n brose ding bly `n boek darem. Gooi dit in `n vuur en poef, net as en rook bly oor.
Nee, ek`s nie swartgalllig nie, eintlik nogal heel opgewonde. Dis net, wel, soos dit is. 'Vergeet van Mao se Klein Rooi Boekie', het ek gister op my Facebook-groep se muur gespog. `Koop eerder Marita se Groot Blou Boek.' Eben vandie uitgewer se bemarkingspan praat van die blou golf wat die land gaan tref. Mog het troffe, prewel ek in my binneste. Mog het troffe!
Maar daar`s mos altyd ook `n bietjie ongeluk by die geluk - anders was ons seker klaar in die hemel? - en hierdie keer is dit `n staking by die drukkery. Wat beteken die boek is nie die naweek in die winkels soos beplan nie, maar eers teen volgende naweek. Wanneer my SA promosietoer reeds aan die gang sal wees! En die vertaling sal eers op 8 Oktober beskikbaar wees! Drat en zut en verdomp. Maar nou ja, help nie ek ontstig my daaroor nie, woon gelukkig al lank genoeg in die staakmal Frankryk om te verstaan van stakings. Que sera sera?
Thursday
Donderdag 19 September 2012
Wanneer is die storie agter die storie van 'n boek klaar geskryf? Want as ek die boek eindelik in my hande kan vashou as 'n soliede voorwerp, dan gaan die storie agter die skerms natuurlik nog aan...
Maar dan word dit ook al weer tyd vir die volgende storie agter die volgende boek.
Ek het besluit ek sal hierdie joernaal staak sodra ek Die blou van onthou in my hande het - en dit gaan hopelik baie binnekort gebeur, dalk nog voordat ek vroeg volgende maand SA toe vlieg vir die promosietoer. Terwyl ek laas week my lyf toergids gehou het om van my rekenaar weg te kom en 'n ekstra inkomste te verdien, terwyl ek iewers tussen Parys en Avignon rondgetoer het, het Riana laat weet die boek het op haar lessenaare geland. En dit lyk pragtig, meen sy, en sy pos summier vir my 'n paar kopieë. En ek hou duimvas dat hulle blitsig opdaag, dan kan ek hier amen sê en 'n ander storie begin.
Maar dan word dit ook al weer tyd vir die volgende storie agter die volgende boek.
| Die Meisie(s) van Avignon |
Friday
Vrydag 7 September 2012
Uiteindelik is die laaaang somervakansie verby en vir die eerste keer in amper 3 maande kan ek weer stoksielalleen in salige stilte by die huis sit en werk. Voel amper effe teleurgesteld dat die allerlaaste korreksies aan die finale proewe van die vertaling vroeër vandeesweek afgehandel is. Maar nou moet ek my tassie pak om vroeg môre-oggend na Parys te vertrek, waar ek 'n SA toergroep gaan ontmoet om tot volgende naweek toergids te speel.
Gister my vliegkaartjies vir die promosietoer ontvang en al die optredes in die noorde, Bloemfontein en Stellenbosch is bevestig. Laat die sirkus begin, hierdie perdjie ken mos nou al haar passies.
En van sirkus gepraat, dis weird om op die ouderdom van 50 plus vir die eerste keer 'n vrouetydskrif se 'voorbladnooi' te word. Ja, die befaamde uitgawe is volgende week op die rak. Toe 'n vrouetydskrif my 20 jaar terug op 'n voorblad wou hê - toe ek nog jonk en onskuldig genoeg was om heel skaflike voorbladmateriaal te wees - het ek verskrik geweier omdat ek gedog het niemand in die boekwêreld sou my ooit weer ernstig opneem nie.
Nou's ek gelukkig lankal verby die stadium waar ek myself ernstig opneem, so ek beskou dit as net nog 'n nuwe ondervinding. En as die voorblad en die hoofonderhoud binne-in die tydskrif 'n paar mense kan oorreeed om my boek aan te skaf, dan's dit natuurlik net nog beter.
Vrydag 31 Augustus 2012
Uiteindelik! Gister die volledige proewe van die vertaling gekry! Maar voor ek te opgewonde word, moet ek myself herinner dat ek nou wéér 'n keer die hele storie van voor tot agter moet lees. Teen dié tyd behoort ek lang dele daarvan uit my kop uit te kan opsê...
Saam met die proewe gister het die fantastiese nuus gekom dat die Afrikaanse én Engelse weergawes gekies is vir Exclusive Books se gesogte Lys (The List). Diep dankbaar, want dit beteken in al die EB-takke landwyd sal Blou en Forget-Me-Not baie sigbaar uitgestal word. Die soort blootstelling waaroor mens maar net kan droom vir 'n nuwe roman.
O ja, en die Engelse omslag is ook gefinaliseer. Ek het die stryd verloor om my eie gesig van die agterblad af te hou. Die pragtige blou teëls word nou na die agterste binneflap geskuif.

Saterdag 25 Augustus 2012
Alain was toe Donderdag in die hof en die beslissing is hy mag eers oor 4 maande weer sy rybewys terugkry. Bummer. Maar dit kon ook 5 jaar gewees het. Of die regter kon besluit het dat hy nooit weer mag bestuur nie, aangesien hy nou as 'n 'gewoonte-oortreder- op die pad beskou word.
Darem bietjie getroos gevoel toe ek dieselfde dag 'n bewonderende boodskap op my Facebook-groep se muur kry van 'n skilder wat stillewes skep met my boeke op. Besef toe dis dieselfde Mariaan Kotze by wie my sus 'n paar jaar gelede 'n skildery gekoop het omdat een van my romans daarop was! Soos 'n herontmoeting gevoel.
Vrydag 17 Augustus 2012
En die
kat kom weer! Mia se katjie is terug nadat sy amper 'n maand weg was
en ons almal moed opgegee het dat ons haar ooit weer lewend gaan
sien! Ek het dadelik na die Pyrenees gebel om vir Mia die blye nuus
oor te dra. Sukkel nog om te glo dat so iets wonderbaarliks so
onverwags kon gebeur. Miskien, sê ek vir myself, miskien is ons
geluk besig om te draai? Want ek het waaragtig nou weer 'n stukkie
doodgewone outydse good luck nodig om my te laat glo dat Alain se
hofverskyning volgende week voorspoedig gaan verloop.
Woensdag 15 Augustus 2012
Vandag
is daardie vreemde Katolieke vakansiedag wat ek, soos Colette, nog
nooit werklik verstaan het nie. In my pa se Protestantse Bybel was
daar geen sprake van enige Maria wat hemel toe gevaar het nie. Maar
op die vakansiedag van 15 Augustus, 1960 en 2007 onderskeidelik, was
Colette en Tina darem met vakansie in Portugal. Terwyl ek op die
vakansiedag van 15 Augustus 2012 by my lessenaar in my snikhete
kantoor sit en werk. Soos gewoonlik, wil ek amper uitroep, oorval
deur selfbejammering.
Laas
week was dit Vrouedag in SA, toe kon ek g'n lewende of dooie siel op
kantoor kry om my e-posse te beantwoord nie. En nou's dit hierdie
onverklaarbare vakansiedag in Frankryk en Portugal en wie weet waar
orals in Europa, en almal om my hou vakansie, al die winkels en
kantore is toe, strate verlate en strande vol – en ek sit en werk! Natuurlik voel ek jammer vir myself! Moet teen vanaand die laaste geredigeerde deel van
die vertaling terugstuur na Riana toe sodat die hele
spulletjie teen die naweek in proewe omgetoor kan word.
Maar
as ek laas week gedog het die hitte is erg... Die hele land is nou amptelik in die kloue van 'n canicule, hittegolf aangekondig deur die regering en die
weerburo, met temperature rondom 40 grade C vir die
volgende paar dae voorspel. En 40 grade C in Frankryk is véél erger
as 40 grade C in SA, want dis so buitengewoon dat die mense op 'n
streep omkap omdat hulle nie weet hulle moet water drink as hulle warm
kry nie. Nou word daar elke dag oor die radio en op TV advertensies gespeel om mense te herinner om water te drink. Red nou 'n volk.
Vrydagaand 10 Augustus 2012
Mia is
terug van haar kuier by die skoonfamilie in die noorde, steeds
hartseer oor haar verlore katjie, maar tog ook opgewonde oor haar
kuier volgende week by haar maatjie se vakansiehuis in die Pyrennees.
Ek moet taxi speel, natuurlik, ses uur se ry soontoe, die nag
oorslaap en ses uur se ry terug. Wou eintlik ook by die Brownes in
Lasseube 'n draai gaan gooi het, maar dit gaan nie uitwerk nie want
ek mis klaar 2 dae se werk met hierdie rondryery en ek kan dit
eintlik glad nie in hierdie stadium van die wedstryd bekostig nie.
Dis presies die 2 dae wanneer die Engelse redakteur die laaste deel
van die vertaling na my sal terugstuur vir finale goedkeuring. Hoe
gouer ek weer agter my lessenaar kan inval, hoe gouer kan ons die
vertaling by die drukkers kry.
| Mirepoix - naby waar ons Mia moet gaan aflaai |
As ek
vir Alain kon gestuur het om vir Mia te karwei, kon ek by die huis
gebly het om te werk, maar hy het pas die laaste skof van sy 'straf'
vir laas jaar se verkeersoortreding begin uitdien. Minstens drie
maande sonder rybewys wat vir hom voorlê. Oor 2 weke moet hy weer in
die hof verskyn en dan sal ons weet hoe lank dit gaan wees voordat hy
weer mag bestuur en of hy 'n boete ook nog moet beaal of tronk toe
moet gaan of wat de hel verder gaan gebeur. Intussen lewe ons in
onsekerheid en hoop en ongeloflike stres. Nie wat ek nou nodig het
nie.
Sondagmiddag 5 Augustus 2012
En
terwyl die Olimpiese marathon op TV onder in die huis gehardloop
word, is ek hier bo in die pylvak van my eie verdomde marathon. Weet
presies hoe daardie arme uitgeputte atlete voel. Die gees wil aanhou,
maar die lyf kán net nie meer nie.
Ek wil
huil van moegheid, maar die einde is in sig. Klaar met die laaste
deel van die vertaling, asook die erkennings wat agter in die boek
moet kom, nou nog net 'n paar ongerymdhede in die vorige 2 dele
uitstryk. Korreksies wat ek in die 3de deel aangebring het, wat
beteken dieselfde woord of frase moet ook in die vorige dele verander
word, of in kursief gedruk word, of wat ook al.
Ek mik
nie vir enige soort medalje nie, te moeg vir sulke ambisies, ek mik
nou net om klaar te kry.
Vrydagaand 3 Augustus 2012
Ek wou
só graag vandag klaarkry met die vertaling sodat ek die naweek kan
rus. En sport kan kyk. Ja, selfs 'n onsportiewe siel soos ek word
geroer deur die Olimpiese malligheid in Londen. Maar die hitte het my
vandeesweek ondergekry.
Dis ergergerg hitsig en my kantoortjie voel elke uur meer soos die oond waarin die Bybelse Daniel en wie nou weer nog moes vertoef. Ek trek die hortjies toe teen die son en skakel die outydse elektriese waaiertjie aan, maar die patetiese dingetjie waai vir al wat hy werd is sonder om enigiets reg te kry. Behalwe om 'n helse geraas te maak. Wat enige vorm van konsentrasie net nog moeiliker maak.

So nou
gee ek op om iewers – waar?!? - te gaan afkoel. Nog sowat 30
bladsye van die vertaling oor om op my rekenaar te check, maar dit
sal oor die naweek gedoen moet word. Goddank dit was nie laas jaar
Augustus só warm nie, want toe was ek pal aan die skryf, g'n
ontsnapkans uit die kantoor nie. Of dalk was ek so besiel deur die
skrywery dat ek nie die hitte gevoel het nie? En noudat ek besig is
met die sieldodende oorlees en oorlees en wéér oorlees, nou gryp ek
na enige moontlike verskoning om uit die kantoor weg te kom?
Donderdag 2 Augustus 2012
Dinsdag 31 Julie 2012
Maar
hopelik sal die boek nie heeltemal flop nie, so dink ek nou weer
nadat ek 'n besonder bemoedigende e-pos van die Nederlandse vertaler
Riet de Jong-Goossens gekry het. Sy't pas die Afr ms gelees en hou sommer baie daarvan
en gaan dit beslis aanbeveel vir 'n Nederlandse vertaling, joegaai!
En wat die Engelse vertaling betref, is die wenstreep darem ook eindelik in sig. Die sportmetafoor is nie toevallig nie. Annelize het belowe sy stuur die laaste deel vóór die openingseremonie van die Londense Olimpiese Spele, want sy wou haarself beloon deur 2 weke lank ongesteurd TV-sport te kyk. En sowaar, teen Vrydagmiddag, enkele ure voor die skouspelagtige openingseremonie (wat ek gemis het omdat ek eerder 'n kunsmuseum in Montpellier wou besoek), was die laaste deel van die vertaling hier. Toe moes ek net wag dat Riana en Danita vir my die 'korrekte' tipografiese weergawe stuur sodat ek daarmee kan werk, en gisteroggend kon ek soos 'n geoefende atleet wegspring.

Kyk so
met een oog na die Spele terwyl ek werk, maar meestal probeer ek van
sport vergeet, gelukkig nie té moeilik vir so 'n onsportiewe siel soos
ek nie, en konsentreer op die Engelse teks wat teen die einde van die
week na die redakteur gestuur moet word...
Maandag 30 Julie 2012
Riana het die bandteks wat in die binneflap van die boek moet kom,
vir my gestuur sodat ek dit kan goedkeur. Dis altyd vir my 'n
embarrassing affêre, te veel van jakkals prys haar eie stert as ek
dit self moet skryf, maar ek waardeer dit tog om insae te hê in wat
iemand anders geskryf het. In hierdie geval het ek die geraamte behou, maar bietjie van die
vet afgesny en die vleis effens anders aangebied.
Ek wil nie hê die bandteks moet onnodige besonderhede weggee nie, soos wie presies die eerste brief aan Colette skryf en waarom dit geskryf is, of wat later van Nandi word nie. Dis wat die leser in die loop van die boek moet leer. Ek wil ook nie hê daar moet té veel klem geplaas word op 'die storie van 3 vroue' nie, want dan skrik potensiële manslesers weer so groot dat hulle nie verder as die bandteks lees nie. Ek wil eerder beklemtoon dat dit oor 'n familie gaan, oor 'n taal en 'n plek, oor hoort en nie hoort nie. En natuurlik ook oor 3 vroue van 3 verskillende geslagte.
| Die foto wat gekies is vir die agterblad |

Gister ook die finale prentjies van die omslag met die flappe en
die loergaatjie gesien – en al wat ek in hierdie stadium kan
sê is, selfs al flop die boek, sal dit nogtans 'n móói flop wees. Onder die mooiste omslae wat ek in 'n lang tyd gesien het. My
onbeskeie en erg subjektiewe mening.
Donderdagaand 26 Julie 2012
| Een van die pragtige prente wat Piet vir ons gesamentlike sprokiesboek gemaak het |
Intussen
treur Mia oor haar katjie wat weg is van ons Maandag van
Lourmarin/Manosque teruggekom het en ek probeer aanmekaar troos en sê, jy weet, katte verdwyn soms dae lank en daag dan weer op, ons ouer
Kosi-kat het al vir 3 dae op 'n slag verdwyn, en kyk net, hier's
sy steeds... Maar ek begin self vrees dat die jonger Chosi nie gaan
terugkom nie. En dan wil ek ook vir haar sê daar's veel erger
ellendes as 'n kat wat wegraak, dink net aan Piet wie se hele gesin
op een slag uitgewis is, maar ek weet dit sal nie háár hartseer
minder maak nie. Vir haar, op hierdie oomblik, is die verlore katjie
die ergste voorstelbare ellende.
Besef
nou dat my vriend Koos gesterf het net voordat ek in alle erns aan
hierdie storie begin skryf het; en net voordat die ms eindelik
drukkers toe gaan (volgende week, het Riana gesê?), sterf my vriend
Piet se vrou en kind. Asof die hele storie so tussen hakies van
verlies geskryf is.
Dinsdag 24 Julie 2012
Heerlike
asemskepnaweek geniet terwyl ek wag dat die Engelse redakteur die 2de
geredigeerde deel terugstuur. André se 60ste verjaardag op hulle
nuwe domaine naby Lourmarin gevier, vreeslik rustig en luuks, no sex,
drugs or rock and roll, how the times have changed, dink ek toe weer
na aanleiding van Dylan se konsert die vorige naweek.
Ook Julian Barnes se Sense of an Ending in 'n enkele dag van voor tot agter gelees - wat 'n verligting ná ek omtrent 3 weke lank gely het om klaar te kry met James se Ambassadors – en besluit dis waaragtig 'n dun maar gewigtige meesterstukkie. 'n Klein wonderwerk van bondigheid en diepte oor die onderwerp van geheue en onthou waarmee ek op my bitter beskeie manier nou ook al amper 2 jaar lank bedrywig is. As ek 'n meer ambisieuse skrywer was, sou ek seker in trane van frustrasie en afguns uitgebars het omdat dit voel asof Barnes in 150 bladsye alles sê wat mens ooit oor onthou sou wou sê, so waarom selfs probéér om enigiets verder oor die onderwerp te skryf? Maar omdat ek myself nie met sulke hoë gerwe vergelyk nie, kan ek dit oopmond bewonder en opreg waardeer.

Môreaand
wil ek die tweede deel van die vertaling terugstuur, dan's die einde rêrig in sig.
Vrydag 20 Julie 2012
Gister
die 1ste deel van die geredigeerde vertaling teruggestuur – en
Sondagaand kry ek die 2de deel om te check. Dus g'n blaaskans nie, maar dinge
beweeg en alles begin uiteindelik bymekaarkom en dis 'n lekker
gevoel. My vlugdatums en die program vir die promosietoer in Oktober
is ook nou uitgeklaar.
Thomas en die Neef van die Noorde en die Neef se meisie kuier 'n paar dae hier en daar word tot laat saans buite musiek gemaak en gesels en gedrink, maar my liggie brand te flou om saam te kuier ná ek die hele dag moes werk En dan's daar nog al die gewone somerswaels wat onthaal moet word, soos die Hoogenbooms van New York en Tom-en-Michelle van Brussel wat laas week kom eet het.
En die hittegolf maak niks makliker nie.
Ek het 3 aande ná mekaar teen 10uur se kant stil-stil kamer toe gesluip en probeer om 'n stukkie te lees voordat my oë toeval. Sonder sukses. Elke keer ná omtrent 3 sinne aan die slaap geraak. Een keer selfs met my klere aan. Bygesê, die 3 sinne is Henry James-sinne - weer The Ambassadors begin lees ná Michiel H se Invisible Furies my lus geprikkel het – en 3 Henry James-sinne is so uitgerek en ingewikkeld soos 3 hoofstukke van enigiemand anders.

Sondag 15 Julie 2012
Gister
se Bastille-dag-vierings en 'Republikeinse etes' op dorpspleine en
vuurwerkvertonings en alles wat daarmee saamgaan, het geheel en al by my verbygegaan want
ek moes myself aan my rekenaar vasketting om deel 2 van die vertaling
teen môremiddag vir die Engelse redakteur te stuur. En vanoggend
ligdag weer begin want vanaand gaan ons na Bob Dylan se konsert in die antieke amfiteater van Nîmes kyk, 'n geleentheid waarvoor ek al omtrent 40 jaar lank wag en
wat ek waaragtig nie wil mis omdat ek 'n selfopgelegde skryftaak nie betyds kon
klaarkry nie. Ons vertrek oor 'n halfuur en ek het pas die laaste
bladsy op my rekenaar gelees, glory hallelujah. Bob Dylan here I
come.
Woensdag 11 Julie 2012
Vanoggend
was die 3de keer dat ek 'n uittreksel uit hierdie teks vir 'n gehoor
gelees het – en wat 'n vreemde ervaring was dit nie! Die gehoor het
in 'n saal by die Vryfees in Bloemfontein gesit en ek het voor my
rekenaar by die huis op die Franse platteland gesit en danksy Skype
en die moderne tegnologie kon ons vir mekaar kyk en met mekaar
gesels. Gister tydens die oefensessie was die verbinding tussen
Bloemfontein en Frankryk uitstekend, maar vanoggend tydens die live
performance is ons 'n hele paar keer afgesny. Was nogal senutergend.
Maar ek het heeltyd gevoel of ek soos Harry Potter met een of ander
towerformule van een plek na 'n ander plek duisende kms daarvandaan
getransporteer of getransformeer of ge-watookal is!
Dinsdag 3 Julie 2012
![]() |
| Slaapplek en kos vir 12 van ons oor die naweek... |
Nou
stuur Riana hierdie deel reguit na die Engelse redakteur want ons tyd
raak min (wil ek amper uitroep soos Colette in haar reisjoernaal!) en
ons sal dinge so stuk-stuk moet aanpak as ons die hele spul betyds by
die drukker wil hê. En dan kry ek vroeg volgende week wanneer die
meeste van ons oorslaapgaste weer vertrek het, die 2de deel van die
vertaling van Annelize en die 1ste deel van die geredigeerde
vertaling terug van die redakteur. Dan het ek tot die week daarna om
aan die 2de deel te werk en die 1ste deel vir oulaas oor te lees om
te kyk of daar nog enigiets is wat hinder en dan kry ek al weer die
3de deel van Annelize...
Ai tog, en ek het so half geglo ek gaan 'n rustige somer hê. What was I thinking.
Ai tog, en ek het so half geglo ek gaan 'n rustige somer hê. What was I thinking.
Subscribe to:
Posts (Atom)