Amper
12 ure aanmekaar, ongesteurd, alleen in die huis gewerk! Wanneer laas
het dít gebeur?!? Wie weet wanneer dit ooit weer sal gebeur?!? Alain
se permitlose kar ry weer (tot dit oor 'n paar dae weer nie wil ry
nie), dus kon hy vir Mia skool toe neem; Daniel is vroeg vanoggend
terug na Grenoble; Mia het 'n klaskaptein-vergadering ná skool
gehad tot 7.30 vanaand en Alain het besluit in daardie geval sal hy
ook laat werk tot hy haar kan terugbring. Wat beteken ek kon skryf
soos 'n enkelvrou. Heeltemal in 'n frenzy gegaan en omtrent 10
sigarette gerook. (Na ek opgehou het! Maar in my enkelvrou-dae het ek
ook mos my longe uitgerook as ek so 12 uur aanmekaar skryf. Is dit 'n
verskoning? My keel is seer gerook, dus sal ek more maar weer moet
ophou.) Maar dit was alles die moeite werd want ek het die 1995-hfstk
klaar gekry, glory hallelujah.
En
ondanks die sukkelende begin, het dit teen die einde al hoe makliker
gevloei, tot by die laaste para wat soos manna uit die hemel op my
rekenaarskerm geval het. G'n gewroeg oor die slot nie, for once.
Waarom is dit soms so uitmergelend moeilik en soms so, wel, amper
maklik? 'Amper' being the operative word. Al skryf ek tot ek 100 jaar
oud word, sal dit seker nooit net doodgewoon maklik word nie.
Anders
gestel, as dit die dag maklik word, sal ek weet dis tyd om op te hou.
No comments:
Post a Comment