|
Sintra se paleis |
|
Sao Bento se stasie |
Goed, ek het die breë
buitelyne van my storie se slot - uiteeeeiiiindelik – maar nou soek ek die
besonderhede. Gister in Porto gewees, vandag in Sintra, teëls,
teëls, en nogmaals teëls, en aanmekaar tob ek oor die einde. Tina bring vir
Fernando na SA - en wat dan??? Ek wil nie die storie verder vat nie,
dis lank genoeg, en ek hou altyd van die idee van 'n oop einde. Laat
elke leser daarmee maak wat hy wil. Maar selfs in so 'n oopte moet
daar tog 'n soort sluiting wees? Die laaste paragraaf of sin van 'n
roman kan nie sommer nes enige ander para of sin wees nie. Dis 'n
deur wat agter jou toegesluit word, maar terselfdertyd vir jou
toegang gee tot 'n ander kamer, 'n nuwe ruimte, meer moontlikhede.
En toe, terwyl ek in
'n taverna naby die stasie in Sintra 'n olierige middagete met 'n
glas gans te soet witwyn geniet – ja, geniet,
ek was gek daaroor - onthou ek Tina se tienderjarige bespiegeling oor
hoekom ons nie die toekoms kan onthou nie. En toe wéét ek hier is
my slot. My laaste para of sin. Tina sal hierdie frase benut om vir
haar ouma en vir haarself (en natuurlik ook vir my lesers) te sê,
kyk, as ons die toekoms kon onthou, sou ons geweet het wat gaan
gebeur, maar nou sal ons maar moet wag en sien wat gebeur?
No comments:
Post a Comment