My eerste
reaksie was om 'n vloermoer te gooi en myself bitter jammer te kry,
maar ek het dit weerstaan. Ek het al 4 die lesersverslae deeglik
bepeins, doen dit nou al 48 uur lank, en ek begin weer 'n bietjie lig
voor in die tonnel sien. Ék hóéf nie die hele storie oor te skryf
nie. Almal stem saam dat dit 'n aangrypende storie is, dat al die
elemente reeds dáár is, dat ek dit net op 'n ander manier moet
aanbied. Wat darem seker ook as goeie nuus beskou kan word?
Môre durf ek
dus die amptelike tweede weergawe aan. Ek het 'n week tyd voordat ek
SA toe vlieg vir Kimberley se skrywersfees en die Stellenbosse
Woordfees. As ek dag en nag werk, kan ek 'n hersiene ms saamneem na
SA. Weet ek sal nie tyd kry om te skryf terwyl ek daar is nie, maar
ek sal dalk tyd kry om die ms te lees, of in elk geval daaraan te
dink. En dan sal ek hopelik gereed wees om die derde weergawe aan te
pak sodra ek in middel Maart terug by die huis is – en dit teen
einde Maart weer na my redakteur te stuur?
Ek wil dit so
gou as moontlik afhandel, nie net omdat ek die vertaler genoeg tyd
wil gee vir die moeilike vertaaltaak nie, maar ook omdat al die
voorstelle vir verbetering nog vars in my kop is, omdat die hele
ms nog vars is, die karakters, die storielyn, niks het nog vervaag
nie. As jy 'n ry steke laat val terwyl jy brei, moet jy dadelik
die steke optel en oorbrei, anders sit jy met 'n gat wat net al hoe
groter gaan word. Dis hoe ek nou daaraan dink. Weet nie hoekom ek so
gepla is met brei-metafore nie. Die enigste breier in my storie is
Sina. En ons sien haar eintlik net een keer reg tee die einde brei.
No comments:
Post a Comment