By 'Daniel se restaurant' in Grenoble |
As jy meer wil weet oor die swaarkry en die lekkerkry agter die klaarkry van 'n roman, lees Marita van der Vyver se joernaal oor die skryfproses van 'Die blou van onthou'. Vir die volle storie kan jy ondertoe duik tot by Maart 2011 en dan so lees-lees terug boontoe swem...
Thursday
Donderdag 25 Augustus 2011
Swaer
kuier al amper 'n week hier en ek word al hoe trotser op my
toenemende vermoë om ondanks ons somerse oorslaapgaste aan die skryf
te bly. Maandag hard gewerk, Dinsdag afgevat om saam met swaer vir
Daniel in Grenoble te gaan kuier, gister en vandag weer heeldag voor
die rekenaar gesit, en vanaand, oor 'n uur of 2, ry ek en Alain en
Hugo Nîmes toe om vir Jens en Mia daar by ons pelle se Afri-Franse
restaurant te kry vir 'n ete wat net lekker kan wees. Ek het die
uiteetsessie die afgelope 2 dae voor myself rondgeswaai soos 'n
wortel voor 'n steeks donkie. Skryf, Marita, skryf, dan kan jy
vanaand gaan smul.
En
die wortel het wraggies gewerk, want ek is klaar met 1978! Die groot
konfrontasie tussen Nandi en haar ma oor die reisjoernaal wat sy die
vorige jaar ontdek het. Dialoog, dialoog, dialoog. Seker die hfstk
met die meeste – en die belangrikste - dialoog tot dusver. Die
uitdaging, soos altyd, is om dit natuurlik te laat klink. Al die
noodsaaklike inligting oor te dra sonder dat dit klink asof die
skrywer besig is om noodsaaklike inligting aan die leser oor te dra.
Ek dink ek het dit. Nie doodseker nie. Maar ek's nooit doodseker van
enigiets wat ek geskryf het nie. Die dag as dit gebeur, kan ek seker
maar ophou skryf.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment