Thursday

Woensdag 14 Desember 2011


Mia se tuisgemaakte staltoneel - met Angry Birds pleks van engele
Wroeg gister so tussen die Kersvoorbereidings weer oor beeldspraak en metafore. In hierdie hfstk oor die jaar 1997 het ek vir Tina aan 'n gerusstellende wete laat vasklou (die gedagte dat haar biologiese ma darem nie 'n alkoholis was nie) 'soos 'n drenkeling aan 'n plank.' Dit het my gehinder van die oomblik dat ek dit geskryf het en met elke oorlees het dit net meer hinderlik geword. Dis darem waaragtig net te voorspelbaar en vervelig. Beeldspraak moet oorspronklik wees én met die verwysingswêreld van die karakter te doen hê, anders kan ons net so goed sonder beeldspraak klaarkom. Buitendien, ek het 'n soortgelyke beeld klaar op 'n ander plek in die ms gebruik, waar dit wel vir my gewerk het, in die hfstk oor 1955 waar Colette se moeë en vaak en lui leerlinge aan hulle lessenaars vasklou.

Met die laaste herlees gisteraand, ná ek die hele hfstk klaar geskryf het, verander ek dit toe na 'soos 'n kat aan 'n swaaiende boomtak'. En toe voel dit vir my OK, 'n prentjie wat die 15-jarige Tina in haar eie kop sou kon sien, nie 'n toneel wat sy nog net in movies gesien het of 'n cliché wat sy in 'n boek gelees het nie.

Maar selfs 'oorspronklike' beeldspraak kan gevaarlik wees. Sommige skrywers is baie goed met onverwagse metafore, maar dit beteken nie hulle is fantastiese skrywers nie. Die destydse Jani Allan se Sunday Times-rubriek was altyd 'n skatkis van verrassende beelde. I rest my case.


O ja, aangename verrassing aan die einde van die hfstk, toe Tina besluit om saam met Charlynn in die bad te klim. Ek het dit nie sien kom nie totdat Tina met die beker hot chocolate langs die bad gestaan het. En toe voel dit soos die natuurlikste ding op aarde dat die twee meisies saam sal bad. Op sulke oomblikke, wanneer die storie sy eie loop kry soos 'n rivier ná goeie reëns, word al die wroeg en worstel skielik die moeite werd.


No comments:

Post a Comment