En hoekom lyk
jy nie meer ekstaties verlig noudat alles veby is nie, wil die mense
hier om my weet. Omdat dit nog lank nie verby is nie, is al wat ek
kan antwoord.
Die
grootste deel van die skryfwerk
is hopelik verby, maar nou kom die hersien en oorskryf, die proeflees
en korreksies, die vertaling, die ontwerp van die omslag, die beplan
van die promosietoer, ens ens ens. Dis eers 'verby' wanneer ek die
gepubliserde boek in my hand vashou. En tog ook nie, want die
promosie daarna is deel van die hele proses, die onderhoude en
voorlesings en rondreis en praatpraatpraat, ag hemel, ek raak sommer
lam in die knieë as ek net daaraan dink.
So die
afgelope 2 dae het ek toe glad nie omgeslaap soos ek graag sou wou
nie. Ek het die proefvertalings gelees sodat ons so gou moontlik
kan besluit wie die vertaler gaan wees. Ons het 5 vertalers gevra om
elk dieselfde 3 uittreksels te vertaal en Riana het die stukke
anoniem na my gestuur sodat ek kan kies. Gedog dit gaan vreeslik
moeilik wees, maar dit was amper onmiddellik duidelik watter stuk die
beste by my styl pas. Die litmustoets was die Lied
van Jong Suid-Afrika in
die 1ste hfstk, waarmee
Vertaler 2 heeltemal 'n nuwe lied geskep het - met
Engelse lirieke wat rym, nes die Afrikaans - plaas van alles bloot regstreeks te vertaal.
Toe ek dít sien, toe weet ek. Híér's my vertaler.
Toe ek dít sien, toe weet ek. Híér's my vertaler.
Teen
vanaand het Riana vir my laat weet Vertaler 2 is Annelize Visser en
ek was omtrent in my noppies want sy wou al van Dinge
van 'n kind se dae - amper 20 jaar
gelede! - een van my romans vertaal en elke keer het iets voorgeval
wat dit onmoontlik gemaak het. Of ek het nie genoeg geld gehad om
haar te betaal nie, of sy was besig met iets anders, of ek het klaar
'n kontrak met 'n ander vertaler geteken, whatever. Nou lyk dit of
dit eindelik gaan werk.
No comments:
Post a Comment