Iewers
lank gelede gehoor dat André Brink voor elke boek deur al sy ou
dagboeke lees – maar dit kan sweerlik nie waar wees nie want hy's
al oor die 70 en het al omtrent 70 boeke geskryf, en as dit hom elke
keer so lank moes vat soos dit my vat om net 'n paar jaar se
skryfsels te lees, sou hy nie 'n enkele oomblik oorhê om te skryf
nie. Of anders lees hy 20 keer vinniger as ek. Skryf ook seker 20
keer vinniger, come to think of it.
As jy meer wil weet oor die swaarkry en die lekkerkry agter die klaarkry van 'n roman, lees Marita van der Vyver se joernaal oor die skryfproses van 'Die blou van onthou'. Vir die volle storie kan jy ondertoe duik tot by Maart 2011 en dan so lees-lees terug boontoe swem...
Thursday
Woensdag 31 Augustus 2011
Finally
hitting the 80's. Die jare 80 wat ek as 'my' dekade beskou omdat ek
dwarsdeur alles dáár was en dit deeglik gedokumenteer het. Hoef dus
nie meer net op internet en ander mense se getuie staat te maak nie,
ek kan ook my eie dagboeke en briewe uit die era lees om die
Zeitgeist vas te vang. Dis nou kopieë van briewe wat ek self geskryf
het, asook stapels briewe van vriende en familie. Wel, eintlik het ek
al maande gelede begin om al hierdie ou geskrifte uit die 70's en
80's te lees, ter voorbereiding vir die deel van my storie waarin
Nandi die hoofkarakter is, maar dit het so verdomp stadig gegaan dat
ek geduld verloor het en halfpad opgegee het.
En
tog het ek die afgelope week of wat toe maar weer al my geskrifte uit
die jare 80 getakel. Wat 'n vreemde, somber, paranoïese era was dit
nie in ons sonnige SA nie. My volgende hfstk gaan oor ouma Lizzie se
begrafnis teen einde 1980 (in dieselfde week as wat John Lennon
doodgeskiet is), vir my 'n geleentheid om weer 'n slag die hele
familie Cronjé-Niemand bymekaar te kry, en vir die opstandige Nandi
'n kans om weer 'n slag haar familie uit hulle skynheiligheid te skok
met 'n swart kêrel. Dalk net 'n vriend, mede-student by UCT, maar
dit sal haar pas as die familie dink dis haar lover. En Sina en
Kolletjie moet ook weer nader getrek word. Ouma Lizzie laat vir
Kolletjie geld erf waarmee sy uiteindelik haar droom kan verwesenlik
om Italië toe te reis? 'n Idee wat my so pas bygeval het. Kan dalk
iets doen daarmee.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment