Dis
nog nie rêrig aand nie, skaars vyfuur, maar reeds donker daar buite.
So daar gaan my daaglikse stappie ook weer verlore. Wil nie in die
ysige donkerte buitentoe foeter nie. En ek het nie eens die troos dat
ek my verlore staptyd gebruik het om vordering te maak met my storie
nie, want ek moes weer 2 dae 'afvat' om ander skryfwerk af te handel.
'n Erotiese storie vir 'n bundel wat binnekort uitgegee word en
waarvoor ek eers nee dankie gesê het, te besig met hierdie roman, en
toe tog my slap arm laat draai het. Vir die redakteur belowe ek sal
voor die einde van die jaar – dus 4 dae oor! - vir hom 'n nuwe
weergawe stuur van 'n storie wat ek paar jaar terug in Engels geskryf
het.
 |
(So het my erotiese storie toe op die ou end gelyk) |
Laas week elke aand pligsgetrou daaraan gewerk, maar dan's ek so
poegaai ná ek heeldag aan die roman geswoeg het dat ek letterlik
bo-op my rekenaar aan die slaap raak – meer on-eroties
is seker nie moontlik nie - en toe besef ek gister nee kyk, só sal
ek nooit klaarkry nie. Dus vandag en gister aan die erotiek
afgestaan, asook aan my volgende Sarie-rubriek en administratiewe
korrespondensie en dergelike dinge. Die lewe wil net eenvoudig nie
gaan stilstaan en wag dat ek hierdie roman klaar skryf nie.
Maar
die volgende toneel tussen Tina en haar ma spook reeds by my. Ons
trek by 2004, Martine het die eerste ronde teen kanker gewen, hulle
vier dit met 'n ma-en-dogter- reis – Mediterreense cruise? - en
gesels ou stukke. Die toon moet ligter en meer hoopvol wees as die
vorige somber hfstk oor daardie swart September van 2001, 'n soort
asemskepkans vir die karakters en die lesers (en vir my as skrywer
wat al hoe meer bedruk raak soos die einde nader kom), want die hfstk
hierna gaan weer droewig wees. As Martine dan tog uitgeslaan word
deur die kanker.
No comments:
Post a Comment