Thursday

Donderdag 29 Desember 2011

Lissabon se geel trems

Pankreaskanker sal dit wees. Om te dink 'n paar dae gelede het ek nie geweet presies wáár in my lyf my pankreas sit of wat dit daar doen nie. Nou het ek so baie daaroor gelees dat ek begin vermoed dat ek dalk pankreaskanker kan hê. Dit gebeur elke keer as ek 'n siekte moet navors om daaroor te skryf. Ek word geleidelik oortuig dat ek verskeie simptome het en teen die einde van my navorsing moet ek hard stry teen die versoeking om dadelik my dokter te bel en my testament reg te kry.

Die ergste van alles is dat ek wéét die grootste gros van al hierdie inligting oor die pankreas gaan soos gewoonlik nie in die storie gebruik word nie. En tog weet ek ook ek moet dit nogtans hê, iewers in my agterkop, om oor Martine se kanker te kan skryf. Feite is feite. Sê die ou kanniedood-joernalis in my. Nooit sal ek die heilige ontsag vir feite kan afskud nie.


No comments:

Post a Comment