Thursday

Dinsdagaand 27 Desember 2011

Dis nog nie rêrig aand nie, skaars vyfuur, maar reeds donker daar buite. So daar gaan my daaglikse stappie ook weer verlore. Wil nie in die ysige donkerte buitentoe foeter nie. En ek het nie eens die troos dat ek my verlore staptyd gebruik het om vordering te maak met my storie nie, want ek moes weer 2 dae 'afvat' om ander skryfwerk af te handel. 'n Erotiese storie vir 'n bundel wat binnekort uitgegee word en waarvoor ek eers nee dankie gesê het, te besig met hierdie roman, en toe tog my slap arm laat draai het. Vir die redakteur belowe ek sal voor die einde van die jaar – dus 4 dae oor! - vir hom 'n nuwe weergawe stuur van 'n storie wat ek paar jaar terug in Engels geskryf het. 


(So het my erotiese storie toe op die ou end gelyk)
Laas week elke aand pligsgetrou daaraan gewerk, maar dan's ek so poegaai ná ek heeldag aan die roman geswoeg het dat ek letterlik bo-op my rekenaar aan die slaap raak – meer on-eroties is seker nie moontlik nie - en toe besef ek gister nee kyk, só sal ek nooit klaarkry nie. Dus vandag en gister aan die erotiek afgestaan, asook aan my volgende Sarie-rubriek en administratiewe korrespondensie en dergelike dinge. Die lewe wil net eenvoudig nie gaan stilstaan en wag dat ek hierdie roman klaar skryf nie.

Maar die volgende toneel tussen Tina en haar ma spook reeds by my. Ons trek by 2004, Martine het die eerste ronde teen kanker gewen, hulle vier dit met 'n ma-en-dogter- reis – Mediterreense cruise? - en gesels ou stukke. Die toon moet ligter en meer hoopvol wees as die vorige somber hfstk oor daardie swart September van 2001, 'n soort asemskepkans vir die karakters en die lesers (en vir my as skrywer wat al hoe meer bedruk raak soos die einde nader kom), want die hfstk hierna gaan weer droewig wees. As Martine dan tog uitgeslaan word deur die kanker.

No comments:

Post a Comment