Thursday

Sondag 25 Desember 2011

Geseënde Kersfees, Colette, Nandi, Tina en al die ander. Ek het soos 'n besopene gewerk (wou sê besetene, toe kom besopene uit, en nou klink dit vir my gepas want ek het so geswoeg dat ek 'n soort abnormale nie-heeltemal-bewuste toestand bereik het) om die hfstk oor 2001 klaar te kry sodat ek gisteraand saam met my gesin Oukersaand kon vier. En gistermiddag, so tussen die einde van geskenke toedraai en die begin van koskook vir die aand, het ek dit waaragtig reggekry.

Die verligting is miskien selfs groter as toe ek enige ander hfstk voltooi het, want hierdie ene was somber en sad. En in die Krismisseisoen raak ek in elk geval altyd somber en sad, melankoliek en mismoedig, te veel mense wat gemis word - en elke jaar word die gemistes meer - dus nie 'n goeie tyd om 'n hfstk oor die dood van 'n karakter se pa te skryf nie. Boonop teen die agtergrond van Nine Eleven en al daardie vallende figure wat uit die Twin Towers se vensters gespring het. Voel vanoggend besonder blou. En die mistral wat daar buite woed, help nie juis nie. Maar ek het myself en my gesin belowe ek gaan één dag nie skryf nie. Krismis is Krismis. Môre laat waai ek weer saam met die wind.

No comments:

Post a Comment