Thursday

Saterdagnag 4 Februarie 2012



Die Groot Koue waaronder die hele Frankryk die laaste paar dae ly, het darem die één voordeel vir my, dat ek glad geen lus het om buitentoe te gaan nie, nie eens my neus by die deur uit te steek nie, dus geen verskoning om nie dag en nag voor my rekenaar te sit nie. Maar vanoggend het ons, soos duisende ander huise, nie 'n druppel water gehad nie omdat die water in die pype vasgevries het. Die 1ste keer in die 15 jaar wat ek hier woon, dat dit só koud word.

Ergste van alles is dat ons nie eens die estetiese troos van sneeu het nie, die mistral waai al die sneeuwolke weg, dis net vaal en kaal en onbeskryflik koud, ver onder vriespunt dag en nag. Alain het toe darem die waterwype ontvries gekry met 'n elektriese verwarmertjie wat warm lug blaas terwyl ek met drie paar sokke en drie truie voor my rekenaar sit en werk.

Ons het mense genooi om vanaand te kom eet - omdat ek gedog het ek sou teen dié tyd klaar geskryf wees – en toe jaag ek heeldag teen die horlosie om die laaste sin te skryf voor hulle opdaag. Wel, om kwart oor 7 vanaand het ek daardie sin geskryf – nie tevrede daarmee nie, sal dit beslis môre oorskryf – en 'n kwartier later het ons gaste aan die voordeur geklop. Ek moes my uit my storiewêreld ruk en tafel dek en slaai maak en rys kook (die slegste, taaiste rys wat ek in my lewe gekook het) en die sjarmante gasvrou speel terwyl my kop heeltyd nog met daardie laaste sin en para en hfstk besig was.

Nou voel ek darem ek's amper daar, ek sien al die eindstreep waar my redakteur my staan en inwag - met ope arms soos sy eergister laat weet het - nog net 'n laaste bietjie inspanning môre en oormôre en die dag ná oormôre...

No comments:

Post a Comment