Thursday

Vrydag 10 Februarie 2012


En hoekom lyk jy nie meer ekstaties verlig noudat alles veby is nie, wil die mense hier om my weet. Omdat dit nog lank nie verby is nie, is al wat ek kan antwoord.

Die grootste deel van die skryfwerk is hopelik verby, maar nou kom die hersien en oorskryf, die proeflees en korreksies, die vertaling, die ontwerp van die omslag, die beplan van die promosietoer, ens ens ens. Dis eers 'verby' wanneer ek die gepubliserde boek in my hand vashou. En tog ook nie, want die promosie daarna is deel van die hele proses, die onderhoude en voorlesings en rondreis en praatpraatpraat, ag hemel, ek raak sommer lam in die knieë as ek net daaraan dink.

So die afgelope 2 dae het ek toe glad nie omgeslaap soos ek graag sou wou nie. Ek het die proefvertalings gelees sodat ons so gou moontlik kan besluit wie die vertaler gaan wees. Ons het 5 vertalers gevra om elk dieselfde 3 uittreksels te vertaal en Riana het die stukke anoniem na my gestuur sodat ek kan kies. Gedog dit gaan vreeslik moeilik wees, maar dit was amper onmiddellik duidelik watter stuk die beste by my styl pas. Die litmustoets was die Lied van Jong Suid-Afrika in die 1ste hfstk, waarmee Vertaler 2 heeltemal 'n nuwe lied geskep het - met Engelse lirieke wat rym, nes die Afrikaans - plaas van alles bloot regstreeks te vertaal. 

Toe ek dít sien, toe weet ek. Híér's my vertaler.

Teen vanaand het Riana vir my laat weet Vertaler 2 is Annelize Visser en ek was omtrent in my noppies want sy wou al van Dinge van 'n kind se dae - amper 20 jaar gelede! - een van my romans vertaal en elke keer het iets voorgeval wat dit onmoontlik gemaak het. Of ek het nie genoeg geld gehad om haar te betaal nie, of sy was besig met iets anders, of ek het klaar 'n kontrak met 'n ander vertaler geteken, whatever. Nou lyk dit of dit eindelik gaan werk.

No comments:

Post a Comment