Thursday

Maandagnag 6 Februarie 2012

Só naby, voel dit nou, en tog só onbereikbaar ver. Ek wroeg oor die slot. Ek weet wat ek wil sê en ek wil dit in so min woorde as moontlik sê, maar dit moet nie stomp afgekap klink nie. Dan skryf ek 'n laaste sin, dan las ek nog 'n kortetjie by, dan skrap ek die kortetjie, dan verander ek die vorige laaste ene, dan besluit ek om hom op sy eie as 'n los paragraaf te rangskik – en dan lyk hy vir my so éénsaam, siestog, daar op sy eie onder aan die bladsy dat ek maar weer nog 'n sinnetjie bylas! En dan begin alles weer van voor af. Skrap die bygelaste sin, verander die vorige sin...

Ek is nooit teen die einde van 'n roman tevrede met die roman nie. Die idee wat ek in my kop gehad het toe ek begin het en dit wat ek uiteindelik op papier sien, is nooit na genoeg aan mekaar nie. Maar ek wag altyd vir 'n soort kliekgeluid wat ek in my kop hoor wanneer ek die laaste bladsy lees en dan weer waneer ek die hele ms oorlees – en as ek daardie kliek hoor, weet ek ek kan maar die ms vir die uitgewer en proeflesers stuur. Ek het nog nie vandag daardie kliek gehoor nie, daarom werk ek onverpoos verder.

No comments:

Post a Comment