Thursday

Maandag 12 Desember 2011

Tot dusver was hierdie skryfsels maar net 'n soort blog vir myself - en om my redakteur darem so min of meer 'n idee te gee van hoe ek vorder. Reg in die begin kortstondig oorweeg om dit 'n 'regte' blog te maak, met 'n skakel op my Facebook-groep se muur, om dalk by voorbaat 'n bietjie verwagting onder lesers te skep. Maar gou besef dit sal nie werk nie, want ek skryf oor karakters en dinge wat nog net in my eie kop bestaan. Vir alle ander mense sal dit eintlik eers sin maak nadat hulle die boek gelees het.

En toe begin ek oor die naweek wonder of ek nie die blog sáám met die roman moet publiseer nie? Nie in boekvorm nie, bloot op my webwerf, met miskien 'n skakel agter in die boek? As 'n soort bonus vir lesers wat belang stel in hoe 'n storie ontstaan? Want dit verstom my altyd hoeveel lesers wel daarin belang stel. Ek kan verstaan dat skrywers en potensiële skrywers gefassineer is deur hoe ander skrywers hulle stories skep, maar elke keer as ek op 'n promosietoer gaan, oorval 'gewone lesers' my met vrae oor die ontstaan van die boek. Dalk is hulle almal potensiële skrywers? 

Soms vermoed ek twee derdes van alle lesers is potensiële skrywers. 

No comments:

Post a Comment