Thursday

Woensdag 12 Oktober 2011

Doelbewus die ms laat lê die afgelope 2 weke, bietjie dinktyd nodig, bietjie broeityd, maar onbewustelik wil ek ook die laaste skof uitstel, want ek begin al hoe banger word. Gelukkig kon ek die broeityd gebruik om verder te lees aan ou briewe en dagboeke uit die 90's en vroeë jare 2000 – en toe kom ek uit my eie geskrifte agter dat ek altyd deur 'n intense periode van vertwyfeling gaan as ek so 2 derdes van 'n ms klaar geskryf het. Presies waar ek nou is.

Dit het te doen met daardie hekke wat agter jou toeklap, het mos al vroeër daaroor geskryf, die brûe wat agter jou afgebrand word terwyl jy aan 'n storie skryf, die paadjie vorentoe wat al hoe steiler en smaller word met al hoe minder ontsnaproetes. Nou's ek op die punt waar die storie nie meer net 'n opwindende moontlikheid is nie, dis besig om 'n werklikheid te word. En ek weet nie of dit die werklikheid is wat ek wou gehad het nie. Ek weet nie of dit steeds die storie is wat ek wou geskryf het nie. Ek wens dit was makliker om enigiets op aarde te wéét.

No comments:

Post a Comment