Thursday

Sondag 1 Januarie 2012

Ai tog. Ek gló in sperdatums, daai ou joernalis in my het dit nodig, en as ek nie vir myself 'n sperdatum stel wanneer ek 'n boek skryf nie, sal ek vir altyd aanhou oorskryf sonder om ooit tevrede te wees, dis hoe ek nog altyd gevoel het. Maar elke keer as ek my sperdatum vir my uitgewer gee, voel dit of ek die noodlot tart, want ek wéét mos hoe maklik planne kan skeefloop in die lewe van 'n skrywer wat ook 'n ma en 'n man se vrou en 'n vriendin en 'n familielid en 'n mens probeer wees. 

En nou, minder as 'n maand voor my sperdatum vir hierdie ms aanbreek, het ek blykbaar die skeefloop-stadium bereik. Nie die ms wat skeefloop nie, goddank, daar gaan dit klopdisselboom, maar al die krisisse en klein jakkalsies in die res van my lewe, my gesin se siektes en ongelukke, Daniel wat sy kop op 'n snowboard oopgekap het vanoggend en steke moes kry, Mia wat 'n vieslike hoes opgetel het en die naweek byna die kombuis aan die brand gesteek het terwyl sy op haar eie popcorn probeer maak, Alain wat buite neerslaan toe hy die vuurherd se as wil weggooi en nou lyk asof sy vrou hom aangerand het...

Gee my krag. Dis my nuwejaarswens vir myself. Om tog net staande te bly om almal om my te verpleeg en so tussen die verplegery deur ook aan die skryf te bly. Dis darem seker nie te veel gevra nie???

No comments:

Post a Comment