Thursday

Saterdag 18 Februarie 2012

Tweede salige 'vry' naweek in 'n ry. Vry van die verdomde ms, bedoel ek nou, nie nodig om heeltyd daaroor te wroeg soos die laaste maand terwyl ek daaraan gewerk het nie, vry om op 'n Saterdagoggend laat in die bed te lê en tydskrifte te lees, mark toe te gaan en koffie by 'n sypaadjietafel te drink (die 1ste dag in 3 weke dat die wind nie waai nie, wat 'n vreugde), TV te kyk en José Saramago se The Year of the Death of Ricardo Reis klaar te lees. Selfs 'n slag skons gebak vir laatmiddagtee!

En tog bly ek benoud, want ek wag steeds op die buitelesers se oordeel. Sê nou nie een van hulle hou genoeg daarvan om darem net so 'n sprankie opgewondenheid te wys nie? Ek hét vir kritiek gevra, ja, liewers nóú kwaai kritiek as wanneer die boek klaar gepubliseer is, maar wat ek eintlik vreeslik graag sou wou hê, is hierdie stadium van die wedstryd, is juigende aanmoediging. Soos 'n moeë marathonatleet wat die eindstreep nader, dis hoe ek al hoe meer voel, en al wat my nog die krag kan gee vir die laaste skof, is 'n bietjie applous van die kantlyn af.

No comments:

Post a Comment