Thursday

Woensdag 22 Februarie 2012

O hel, o hel, o hel. Hoe sal ek dit nou stel. Van pure paniek begin ek sommer rym. Wel, kom ons begin by die goeie nuus. Die goeie nuus is dat al 4 buitelesers dié keer saamstem in hulle kritiek. Die slegte nuus is dat hulle saamstem dat die eerste deel van my ms nog nie werk nie. Dat ek nie vir die leser genoeg aas gee om aan te byt nie, dat ek nie die storie duidelik genoeg deur Colette se oë vertel nie, dat ek ontslae moet raak van my 'alwetende verteller' wat soms voorspellings oor die toekoms maak, ens, ens.

My eerste reaksie was om 'n vloermoer te gooi en myself bitter jammer te kry, maar ek het dit weerstaan. Ek het al 4 die lesersverslae deeglik bepeins, doen dit nou al 48 uur lank, en ek begin weer 'n bietjie lig voor in die tonnel sien. Ék hóéf nie die hele storie oor te skryf nie. Almal stem saam dat dit 'n aangrypende storie is, dat al die elemente reeds dáár is, dat ek dit net op 'n ander manier moet aanbied. Wat darem seker ook as goeie nuus beskou kan word?

Môre durf ek dus die amptelike tweede weergawe aan. Ek het 'n week tyd voordat ek SA toe vlieg vir Kimberley se skrywersfees en die Stellenbosse Woordfees. As ek dag en nag werk, kan ek 'n hersiene ms saamneem na SA. Weet ek sal nie tyd kry om te skryf terwyl ek daar is nie, maar ek sal dalk tyd kry om die ms te lees, of in elk geval daaraan te dink. En dan sal ek hopelik gereed wees om die derde weergawe aan te pak sodra ek in middel Maart terug by die huis is – en dit teen einde Maart weer na my redakteur te stuur?

Ek wil dit so gou as moontlik afhandel, nie net omdat ek die vertaler genoeg tyd wil gee vir die moeilike vertaaltaak nie, maar ook omdat al die voorstelle vir verbetering nog vars in my kop is, omdat die hele ms nog vars is, die karakters, die storielyn, niks het nog vervaag nie. As jy 'n ry steke laat val terwyl jy brei, moet jy dadelik die steke optel en oorbrei, anders sit jy met 'n gat wat net al hoe groter gaan word. Dis hoe ek nou daaraan dink. Weet nie hoekom ek so gepla is met brei-metafore nie. Die enigste breier in my storie is Sina. En ons sien haar eintlik net een keer reg tee die einde brei.


No comments:

Post a Comment