Thursday

Woensdag 21 September 2011

Nog 'n week, nog 'n hfstk. Klaar met Nandi se swangerskap in 1982. Was só trots op die laaste sin toe ek dit gister neerskryf, maar toe ek vanoggend weer daarna kyk, toe wonder ek of dit nie te vol patos is nie? Te emosioneel manipulerend? Te wat nog alles?!? Die enigste manier om te weet, is om dit nou eers te laat lê, anderdag weer met 'n vars blik daarna te kyk. En selfs dan weet mens nie altyd nie. Altans, miskien weet ander slimmer, meer selfversekerde skrywers as ek presies wanneer hulle een woord of een sin te ver gaan op emosionele vlak, maar ek wroeg aanhoudend daaroor.

Lyk my dis min of meer my tempo met hierdie ms, 'n week per hfstk, mits ek vyf dae van die week 8 ure per dag werk. Anders word dit oor 2 of selfs 3 weke uitgerek. Môre en Vrydag kuier ek saam met die laaste van ons somergaste, Wilma en Nico, daarna lê die lang, koue, stil winter voor waarin ek aanmekaar kan skryf en lees. Soos elke jaar is ek triestig oor die einde van die somer en die dae wat begin krimp en die wingerde wat begin verkleur, maar winter bly nou eenmaal vir my 'n baie meer produktiewe skryftyd.

Gisteraand het ons die nuwe kaggel in die nuwe huis vir die eerste keer getoets, versigtig, net so 'n pieperige vuurtjie want dis nog glad nie koel genoeg vir 'n behoorlike vuur nie, en wat 'n plesier was dit nie. Langs daardie kaggel gaan ek nog laaang stukke van hierdie boek sit en plot. Dit kon ek gisteraand aanvoel.

No comments:

Post a Comment