Thursday

Maandag 13 Februarie 2012

Was heel naweek vaagweg onrustig, angstig, kriewelrig, want ek weet 'n paar buitelesers is besig om my ms te lees en hulle gaan binnekort vir my elk 'n verslag stuur en daardie heel eerste reaksies is altyd so verskriklik belangrik.

En toe kom die 1ste verslag reeds vanmiddag! Maar net voordat ek begin lees, het ek besluit om eerder te wag tot ek al 4 het en dan almal saam te lees. Deur ervaring geleer dis beter so, anders skrik ek my oor 'n mik as die 1ste leser nie van 'n hfstk of 'n karakter hou nie en begin vervaard oorskryf, en dan hou die 2de leser dalk presies van dít waarvan die 1ste leser nie gehou het nie en dan wil ek weer alles skrap wat ek klaar verander het, en dan sê die 3de leser weer heeltemal iets anders en dan's ek toetentaal verward. Ja, dit het al voorheen gebeur, maar dié keer gaan ek wyser wees.

Kan natuurlik ook die buitelesers oorslaan, vele 'ervare' skrywers doen dit glo, maar ek meen 'n skrywer het altyd objektiewe opinies van betroubare lesers nodig, maak nie saak hoeveel boeke sy al agter die blad het nie. Anders stel jy tog net die kritiek uit tot ná die boek gepubliseer is - wanneer jy niks meer daaraan kan doen nie. So nou wag ek onrustig, angstig, kriewelrig tot die ander verslae kom. Terwyl die ongelooooooflike koue net nie wil ophou nie. Waterpype was vanoggend weer gevries, petrol vir die central heating was gevries, selfs die petrol in die motor se tenk het gevries!  

No comments:

Post a Comment