Thursday

Woensdag 4 Januarie 2012

Nog een van die huishoudelike krisisse wat die skrywery oor die laaste paar dae moeilik gemaak het, is dat die olie vir ons sentrale verwarming onverwags opgeraak het en die huis elke dag 'n bietjie meer soos 'n igloo naby die Noordpool begin voel. Ons dog so ewe daar's nog minstens 100 liter oor in die enorme tenk, maar nou't ons op die harde manier geleer die laaste 100 liter in hierdie tenk is basies onbruikbaar want daar's te veel 'onsuiwerhede' in die olie so naby die bodem.

Ek het teen gistermiddag onder 3 komberse in die bed gesit en aantekeninge maak - heeltemal te koud voor die rekenaar in my werkkamer – en toe my vingers begin doodgaan, het ek in desperaatheid my lang streepsokkies uitgetrek en oor my hande getrek. Dit was net só onmoontlik koud dat ek nie my regte handskoene onder in die huis wou gaan soek nie, te bang ek verkluim langs die pad.

Maar vanoggend is ons olie afgelewer en ons verwarmingstelsel werk weer en ek het sommer so lag-lag my hoofstuk oor die plesiervaart klaar geskryf. Nee, natuurlik nie, ek kry dit nooit reg om lag-lag te skryf nie, maar dit was waaragtig wonderlik verby om net weer 'n slag in 'n wárm kantoor te werk.  

No comments:

Post a Comment