Thursday

Woensdag 25 Januarie 2012 (Lissabon)


Arme Pessoa...
So daar sit hy nou dag en nag...

Dis my derde besoek aan Lissabon, en dié keer bly ek nie net 'n naweek soos laas nie, dus het ek tyd om te verdwaal. Jy kan nie 'n stad leer ken as jy nog nie daarin verdwaal het nie. En Lissabon is ideaal vir verdwaal, met al die stegies so bo-oor mekaar en onderdeur brûe, moeilik om enige straatkaart te volg, moelik om nie te verdwaal nie.  
Die afgelope 2 dae meer geleer oor azulejos as in die hele jaar waarin ek nou al aan my storie skryf – en in hierdie jaar het ek meer daaroor geleer as in my ganse vorige lewe. Bring die hele middag deur in die nasionale teëlmuseum, praat met mense wat daar werk, blaai deur boeke in die winkel, eet selfs my middagete daar. Lees lang stukke uit Saramago terwyl ek vir busse wag, ry baie bus, stap die stad plat (en dít wil gedoen wees in so 'n heuwelagtige stad) en maak aanmekaar aantekeninge.
Só bly ek het laas week besluit om hierheen te kom vóór ek my storie klaar skryf. Wou dit eintlik al maande lank doen, maar was so angstig om die ms klaar te kry dat ek gedog het ek sal die ding eers voltooi en dán Lissabon toe kom. Enige feite wat verander moes word of stukkies wat bygevoeg moes word, het ek gedog, sou ek mos in die korreksie-stadium kon doen. Nou weet ek  nie hóé ek so dom kon wees nie. Sou mos nooit die ms kon klaarkry sonder hierdie besoek nie!

No comments:

Post a Comment