Thursday

Woensdag 21 Desember 2011


Nee, so lyk dit nog nie - dis laas jaar se foto 
Toe ek gister wakker word, sien ek die eerste poeiersneeu van die winter op die kleiteeldak langs my kamervenster. Dit beteken ek het nou waaragtig deur al vier seisoene, deur son en reën, wind en sneeu, aan hierdie storie geskryf. Eerste hfstk in die hoopvolle lente neergepen, en nou nader ek die einde, heel gepas, in die donkerste dae van die winter. Solstice vandag, daarna begin die lig weer geleidelik terugkom. Hopelik sal ek klaar wees teen die tyd dat die amandelbome in Februarie begin bot.

Ek sê hopelik, maar ek hoor die wanhoop in my stem, want ek het gister besef ek sal net eenvoudig nog 'n bykomende hfstk of 2 moet skryf. Sal nie my sê gesê kry in die 30 hfstke wat ek myself toegelaat het nie. (Ek het so gehou van die simmetrie van 3 dele van 10 hfste elk!) Maar ek sal nie noodwendig 'n 4de deel nodig hê nie, eerder iets soos 'n epiloog waarin ek al 3 vroue se stemme bymekaar kan bring? Dalk e-posse tussen Tina en Colette terwyl Tina in Portugal reis om na haar oupa te soek? En reg aan die einde, ná sy vir Colette omgepraat het om ook Portugal toe te kom, miskien 'n brief aan haar ma (of aan albei haar ma's, Nandi en Martine) om van Colette en Fernando se ontmoeting te vertel. Maar ek weet ook nie of dit sal werk nie, weet nie eens of Tina vir Colette omgepraat gaan kry om Portugal toe te kom nie, weet nie of ek nie eerder by elke afdeling nog 'n hfstk moet byvoeg nie, sodat ek 3 dele van 11 hfstke elk het, dus 'n totaal van 33. Ook 'n getal wat met my praat.

No comments:

Post a Comment