Thursday

Donderdag 25 Augustus 2011

Swaer kuier al amper 'n week hier en ek word al hoe trotser op my toenemende vermoë om ondanks ons somerse oorslaapgaste aan die skryf te bly. Maandag hard gewerk, Dinsdag afgevat om saam met swaer vir Daniel in Grenoble te gaan kuier, gister en vandag weer heeldag voor die rekenaar gesit, en vanaand, oor 'n uur of 2, ry ek en Alain en Hugo Nîmes toe om vir Jens en Mia daar by ons pelle se Afri-Franse restaurant te kry vir 'n ete wat net lekker kan wees. Ek het die uiteetsessie die afgelope 2 dae voor myself rondgeswaai soos 'n wortel voor 'n steeks donkie. Skryf, Marita, skryf, dan kan jy vanaand gaan smul.

By 'Daniel se restaurant' in Grenoble
En die wortel het wraggies gewerk, want ek is klaar met 1978! Die groot konfrontasie tussen Nandi en haar ma oor die reisjoernaal wat sy die vorige jaar ontdek het. Dialoog, dialoog, dialoog. Seker die hfstk met die meeste – en die belangrikste - dialoog tot dusver. Die uitdaging, soos altyd, is om dit natuurlik te laat klink. Al die noodsaaklike inligting oor te dra sonder dat dit klink asof die skrywer besig is om noodsaaklike inligting aan die leser oor te dra. Ek dink ek het dit. Nie doodseker nie. Maar ek's nooit doodseker van enigiets wat ek geskryf het nie. Die dag as dit gebeur, kan ek seker maar ophou skryf. 

No comments:

Post a Comment