Friday

Vrydag 29 Junie 2012

En net toe ek lekker aan die vertaling begin lees, kom 'n dringende versoek van Leserskring dat ek ietsie oor die boek vir hulle katalogus skryf. (Saam met die nuus dat hulle 'n hele paar duisend kopieë bestel het.) Nou ja, so gesê, so gemaak, en hier volg wat ek hoop 'n paar lesers sal prikkel om die boek te bestel:

Elke storie het 'n begin en hierdie een het begin by 'n blou Portugese teël. Of liewers, die saad is meer as 'n dekade gelede reeds in my onderbewussyn gesaai – 'n storie oor 'n Afrikaanse familie wat oor drie geslagte en op drie vastelande afgespeel word – maar die grond van my verbeelding het onvrugbaar gebly tot ek op 'n pragtige potblou Portugese teël afgekom het.

Ek het geweet daar moes 'n versteekte liefdesverhouding wees wat die verloop van al die karakters se lewens sou verander, en ek het geweet só 'n verhouding sou slegs in 'n verre Latynse land moontlik wees. Maar ek wou nie wéér oor Frankryk skryf nie. En ek hét ook al 'n roman (Griet kom weer) oor 'n Italiaanse minnaar en 'n Italiaanse verblyf geskryf. Toe dink ek aan Griekeland, natuurlik, net om byna dadelik te besef dit sou nie deug nie. Griekse eilande en Griekse romantiese bevryding is deesdae ietwat oordoen, in boeke, rolprente, toneelstukke en selfs musiekblyspele. (Wie het nog nie van Shirley Valentine of Mamma Mia gehoor nie?) My volgende neiging was Spanje - ek het Barcelona 'n paar keer besoek en selfs 'n ent op die befaamde pelgrimsroete van Santiago de Compostela gestap om vlerke aan my verbeelding te gee – maar my verbeelding het, helaas, saam met my seer voete laag op die aarde bly sleep.

Maar op 'n dag word ek betower deur 'n antieke handgeverfde keramiekteël uit Portugal. Blouer as blou. Mooier as mooi. Dit het my besiel om oor die eeue oue kuns van azulejos te begin nalees – en my herinner aan die eeue oue verbintenis tussen Portugal en Suid-Afrika. Die Portugese seevaarders was immers die eerste Europeërs wat hier voet aan wal gesit het, hoewel ons geneig is om dit te vergeet omdat ons nooit, soos ons buurlande Mosambiek en Angola, deur hulle gekoloniseer is nie.

Hierdie Portugese navorsing het my aangespoor om weer 'n slag na fado te luister, die tradisionele musiek van verlies en verlange, en eensklaps het ek gewéét my verhaal oor verlies en verlange, oor drie geslagte wat mekaar soek en mekaar mis, kan nêrens anders as in Portugal geanker word nie. Die saad het 'n storie geword, die storie het 'n boek geword, en die boek het 'n naam gekry: Die blou van onthou. Lekker lees!

No comments:

Post a Comment