Thursday

Vrydag 27 Januarie 2012 (Porto)


En in die rooi toeristebus gister, terwyl ek sit en lees wat Colette in 1960 oor Portugal geskryf het sodat ek kan weet wat Tina in 2007 sal skryf, val die einde van die storie uiteindelik in my skoot. Toe ek begin skryf het, het ek nie geweet of Nandi vir Fernando gaan vind nie, nog minder of Tina hom gaan vind, nog minder wat sal gebeur indien enigeen van hulle hom wel vind. Die laaste paar maande weet ek dat Tina hom móét vind en dat sy 'n reünie tussen hom en Colette sal probeer bewerkstellig. Maar hoe??? Hoe gaan Tina in haar e-posse uit Portugal vir haar ouma in SA oortuig dat sy na Portugal moet vlieg om hierdie man uit haar verre verlede te kom konfronteer? 

En toe besef ek gister, terwyl ek oor die mistigeTagus-rivier uitkyk, dat dit vir haar nie nodig is om haar ouma te oortuig nie. Dis Fernando wat saam met Tina na SA gaan vlieg. Natuurlik! Hy's alleen, hy was nog nooit in Colette se land nie, hy sal voel hy's dit aan haar verskuldig ná Tina hom vertel dat Colette sy kind grootgemaak het. En hy sal dit wil doen vir sy kind wie se as in SA gestrooi is. Tina laat weet dus vir Colette dat sy vir Fernando saambring – en dis waar die storie gaan eindig. Niks verder nie.

Nou voel dit asof hierdie einde die enigste moontlike een was – kan weer eens nie glo hoe lank dit my gevat het om 'n pad te kies wat heeltyd voor my gelê het nie! - maar ek weet nie of ek dit sou gevind het as ek nie gister in die misreën oor die Tagus sit en staar het nie.

No comments:

Post a Comment