Thursday

Maandag 5 Desember 2011

Harmansdrup. Dis hoe die skrywery vandag weer gevoel het. (Wat presies ís harmansdrup, wonder ek skielik.) Staaaadig, staaadig oor die klippers, woord vir sukkelende woord, kruipend van komma na punt na aandagstreep. 

Ag nee, hel, ek weet nie hoekom nie, ek weet presies wát ek in hierdie hfstk wil sê (1995, Nuwe SA-etery by Tina se huis), die woorde is reeds dáár, maar dis of ek net nie die volgorde kan regkry nie. Wil nie te veel sê nie, wil nie te swaarwigtig word nie. Sny roekeloos. En dan die donnerse punte en kommas. Styl, styl, styl. Style is everything, after all.

Die hele dag lank aan één paragraaf gewerk! Sulke dae noem ek my Flaubert-dae, gedagtig aan sy befaamde antwoord, toe iemand hom vra wat hy op 'n sekere dag gedoen het, dat dit hom die hele oggend gekos het om 'n punt op die regte plek neer te sit – en die hele middag om dit weer uit te haal. Nie dat ek myself met die grote Flaubert vergelyk nie.. But I feel his pain.

No comments:

Post a Comment