Thursday

Woensdag 31 Augustus 2011

Finally hitting the 80's. Die jare 80 wat ek as 'my' dekade beskou omdat ek dwarsdeur alles dáár was en dit deeglik gedokumenteer het. Hoef dus nie meer net op internet en ander mense se getuie staat te maak nie, ek kan ook my eie dagboeke en briewe uit die era lees om die Zeitgeist vas te vang. Dis nou kopieë van briewe wat ek self geskryf het, asook stapels briewe van vriende en familie. Wel, eintlik het ek al maande gelede begin om al hierdie ou geskrifte uit die 70's en 80's te lees, ter voorbereiding vir die deel van my storie waarin Nandi die hoofkarakter is, maar dit het so verdomp stadig gegaan dat ek geduld verloor het en halfpad opgegee het.

Iewers lank gelede gehoor dat André Brink voor elke boek deur al sy ou dagboeke lees – maar dit kan sweerlik nie waar wees nie want hy's al oor die 70 en het al omtrent 70 boeke geskryf, en as dit hom elke keer so lank moes vat soos dit my vat om net 'n paar jaar se skryfsels te lees, sou hy nie 'n enkele oomblik oorhê om te skryf nie. Of anders lees hy 20 keer vinniger as ek. Skryf ook seker 20 keer vinniger, come to think of it.

En tog het ek die afgelope week of wat toe maar weer al my geskrifte uit die jare 80 getakel. Wat 'n vreemde, somber, paranoïese era was dit nie in ons sonnige SA nie. My volgende hfstk gaan oor ouma Lizzie se begrafnis teen einde 1980 (in dieselfde week as wat John Lennon doodgeskiet is), vir my 'n geleentheid om weer 'n slag die hele familie Cronjé-Niemand bymekaar te kry, en vir die opstandige Nandi 'n kans om weer 'n slag haar familie uit hulle skynheiligheid te skok met 'n swart kêrel. Dalk net 'n vriend, mede-student by UCT, maar dit sal haar pas as die familie dink dis haar lover. En Sina en Kolletjie moet ook weer nader getrek word. Ouma Lizzie laat vir Kolletjie geld erf waarmee sy uiteindelik haar droom kan verwesenlik om Italië toe te reis? 'n Idee wat my so pas bygeval het. Kan dalk iets doen daarmee.

No comments:

Post a Comment