Thursday

Donderdag 8 Desember 2011

En toe maak ek vanoggend die fout om vir Facebook se Taalgoggas en Balbyters-groep te vra waar kom die woord 'harmansdrup' vandaan. Word toe natuurlik vasgevang in 'n lang en vermaaklike internet-gesprek oor outydse Boererate. Kosbare skryftyd wat verlore gaan, wat my weer herinner het aan wat iemand anders - dink dit was Sonja Loots? - onlangs op Fb gesê het. Om deesdae 'n roman te skryf, het jy 1 persent inspirasie nodig, and 99 percent staying away from Facebook. Sela.

Die ander ding waarin ek gister vasgevang geraak het, net so voorspelbaar, maar darem hopelik 'n bietjie meer bruikbaar vir my storie, is navorsing oor die WVK. Videos gesoek van Max du Preez se TRC-verslae Sondagaande op TV, want ek wou hê Tina en haar gesin moet op hierdie spesifieke Sondagaand in 1997 na daai program kyk – en toe kry ek op YouTube videos van byna elke enkele TRC-program wat in die 2 jaar van die WVK se bedrywighede uitgesaai is. En toe begin ek natuurlik kyk...

Fassinerend. Wel, nou is my geheue in elk geval deeglik verfris oor wat alles in die WVK gebeur het - veel meer as wat nodig is vir die beskeie toneeltjie wat ek wil inwerk. En wat ek dalk nie eens gaan inwerk nie. Maar dis mos maar wat gebeur elke keer as ek iets op internet navors. Teen hierdie tyd behoort ek rêrig meer selfdissipline te hê. Probleem is dat die navorsing nou maar eenmaal makliker is as die wroegende skrywery wat die eintlike doel van die navorsing is.


No comments:

Post a Comment