Thursday

Donderdag 20 Oktober 2011

Môreoggend douvoordag vertrek ek en Mia na die VSA, waar ek beslis nie kans gaan kry om te skryf nie, maar hopelik darem kans gaan kry om te dink aan wat nog geskryf moet word. Intussen 'n volgende krisis by die huis wat ek sal moet hanteer sodra ek terugkeer, Alain wat vanmiddag wéér sy rybewys verloor het weens 'n spoedoortreding, net mooi 3 jaar ná hy laas die rybewys teruggekry het. Hoewel 'spoed' nie heeltemal die regte woord is vir 65kmpu nie, en hoewel die lewe vir my meer onregverdig as gewoonlik voel want hy was 3 jaar lank die mees pligsgetroue bestuurder in Frankryk, nooit-ooit gewáág om oor die spoedgrens te bestuur nie, en toe's hy vanmiddag haastig om by 'n laaste werkvergadering uit te kom voor die vakansie more begin...
Nou sal ons vir hom 'n voertuig moet koop wat hy sonder 'n rybewys kan bestuur, anders gaan ek weer maande/jare lank chauffeur moet speel. En dis die lááste ding wat ek kan doen terwyl ek probeer om hierdie ms klaar te skryf, dit gaan eenvoudig te veel tyd in beslag neem. Maar hierdie sans permis karretjies kos deesdae duurder as 'n 'gewone' kar en ek weet waaragtig nie waar ons die geld vandaan gaan kry terwyl ons nog nie ons ou huis verkoop het nie. 

Kan nie nou verder daaroor wroeg nie, stel dit uit tot ek terugkom, gaan pak my tas klaar en vlieg New York toe en gebruik die tydjie daar om die deel van my storie wat in daardie stad afspeel meer 'werklik' te maak. Macy's en Times Square en Central Park en die (gewese) Twin Towers en wat nog alles. En te dink aan hoe nou verder...

No comments:

Post a Comment