Thursday

Donderdag 12 April 2012

En toe gee Francois vir my die klein byltjie waarmee ek my pad deur hierdie bos kan oopkap! Eintlik het hy 'n hele paar voorstelle gemaak, maar die een oor e-posse het dadelik 'reg' gevoel. Waarom nie vir die bejaarde Colette 'n paar e-possies laat skryf nie, om haar van die begin af as verteller-soeker vir die leser te vestig, en terselfdertyd ook rigting te gee aan haar herinneringe? Dat die spesifieke episodes wat sy onthou, op 'n manier verantwoord word?

En daar's 'n verdere voordeel, begin ek nou besef. As Colette se e-posse gelees kan word as antwoorde op Tina s'n (wat heelwat later volg), kry die leser nog 'n paar verlore stukkies van die legkaart. En so word die sirkel dan heeltemal voltrek teen die einde. Toe ek weer na Tina se e-posse kyk, sien ek daar's presies 9 wat beantwoord moet word – en ek het presies 9 e-posse vir Colette nodig om tussen die 9 hfstkke van die 1ste afdeling te plaas. Mens sou sweer ek het dit so beplan, nè.

Dalk het my onderbewuste reeds iets geweet, toe ek Tina se e-posse geskryf het, wat my verstand nog nie gesnap het nie. Hoeveel keer was ek nie al verstom deur die werking van die onderbewuste gedurende die skryfproses nie?

2 comments:

  1. En dit werk uitstekend Marita. Ek het gisteraand jou boek klaar gelees, dit neergesit en tien minute later besef ek moet Colette se eposse weer lees. Fantasties!! Ek is nou besig met die storie agter die storie wat ek baie interessant vind. Juliette, Nieu-Bethesda, Oos-Kaap, SA

    ReplyDelete
  2. Dankie dat jy laat weet het, Juliette. Voel of ek eintlik maar vir myself hierdie stukkies geskryf het, so ek's verras elke keer as ek hoor van iemand wat dit lees!

    ReplyDelete