Friday

Vrydag 17 Augustus 2012

En die kat kom weer! Mia se katjie is terug nadat sy amper 'n maand weg was en ons almal moed opgegee het dat ons haar ooit weer lewend gaan sien! Ek het dadelik na die Pyrenees gebel om vir Mia die blye nuus oor te dra. Sukkel nog om te glo dat so iets wonderbaarliks so onverwags kon gebeur. Miskien, sê ek vir myself, miskien is ons geluk besig om te draai? Want ek het waaragtig nou weer 'n stukkie doodgewone outydse good luck nodig om my te laat glo dat Alain se hofverskyning volgende week voorspoedig gaan verloop. 
Intussen is Eben by Tafelberg besig om die planne vir die promosietoer in Oktober te finaliseer – my optredes by Huisgenoot se Skouspel word reeds op my Facebook-groep se muur geadverteer – en Eldaleen van Vrouekeur het laat weet die uitgawe met my bakkies op die voorblad gaan volgende week drukkers toe. O hel, dis bitter om op my bejaarde ouderdom vir die eerste keer 'n 'voorbladnooi' te word. Met my vorige boek het ek Leserskring se voorblad gehaal, maar dit tel nie rêrig nie want dis nie 'n regte tydskrif wat orals in winkels en kafees rondlê nie. Dank die hemel ek is nie in SA nie, dis al wat ek kan sê. Ek sou dit acutely embarrassing vind om in my eie glimlag op die voorblad vas te kyk elke keer as ek brood of melk by 'n kafee gaan koop. Sou waarskynlik verkies om 'n week lank sonder brood of melk klaar te kom en soos 'n kluisenaar in my huis weg te kruip tot die volgende uitgawe van die tydskrif verskyn.  

2 comments:

  1. Dis nou presies hier waar ek vassteek en hoop "die Blou van Onthou" volg nie 'n bladuitleg met teks wat vertikaal ingespan word nie...

    ReplyDelete
  2. Teen hierdie tyd het jy hopelik agtergekom die bladuitleg van die boek is meer professioneel en lesersvriendelik uitgelê as my blog!

    ReplyDelete