Thursday

Dinsdag 12 Julie 2011 (Lille)

Reën, reën, reën. Wind, wind. Koue. En dis veronderstel om somer te wees! Darem gister sonskyn gehad, wat beteken ek kon my neus by die voordeur van skoonsus se huis uitsteek en 'n ent gaan stap om my storie te plot. Was onseker oor waar ek die volgende hfstk (1972 of 1973) moet laat afspeel. Eers gedog klaarblyklik iewers in die VSA, dis tog waar Nandi 'n hele paar jaar van haar jong lewe deurbring, maar toe word die moontlikheid van 'n vakansie in Portugal al hoe aanlokliker. Om weerklank te vind by Colette se vorige vakansie in Portugal. En miskien 'n suggestie te gee dat Colette tydens hierdie vakansie op een of ander manier iets probeer terugvind het van haar vorige vakansie – al sal Nandi dit natuurlik eers veel later besef?

Maar toe doen ek vanmiddag bietjie navorsing, op skoonsus se rekenaar, oor die jaar '72 en '73. En nou weet ek daardie hfstk móét in '73 in New York gebeur. Dis die jaar toe die tweede Twin Tower amptelik geopen is en vir 'n paar maande was die World Trade Center die hoogste gebou in die wêreld. Nandi se gesin woon in Washington en sal sekerlik een of ander tyd die splinternuwe torings wil besoek. Dis ook die jaar toe Watergate se 'can of worms' oopgemaak is en teen die einde van die jaar was daar die wêreldwye petrolkrisis wat ons manier van ry en reis vir altyd verander het. Ek hoef dit nie alles by te haal nie, maar dis goed om te weet, vir my eie agtergrond, terwyl ek oor 1973 skryf.

No comments:

Post a Comment