Thursday

Vrydag 18 Maart 2011

Frustrasie! Want ek moet aan die skryf kom aan die nuwe storie. Dis nou al maande dat al my tyd en energie opgeslurp word deur die werk aan die nuwe huis, die trek na die nuwe huis, die inpak in die ou huis en die uitpak in die nuwe huis. Nou's ek al 2 weke terug van my salige somervakansie in SA en die 1ste hoofstuk van die storie het vorm gekry in my kop, maar voordat dit ook op papier kan vorm kry, moet ek die chaos in my werkvertrek regruk.

Intussen doen ek ure lank navorsing op internet, net om darem te voel ek vorder 'n paar treë vorentoe, so tussen die boeke wat ek alfabeties op die rakke moet rangskik. Te veel boeke, te min rakke, the story of my life. 

Gister binne 'n uur via Google meer geleer oor Portugese teëls (azulejos) as ooit tevore in my lewe. Vroeër in die week wonderlike video-materiaal oor die Eeufees- Ossewatrek van 1938 ook op internet opgespoor. Dit was die kliek wat ek in my kop moes hoor voordat ek kon begin skryf. Veral Totius se woorde in daardie outydse stem: 'Dit is 'n wonder vir ons oë. Ons sien dit, maar ons deurgrond dit nie.' Miskien, het ek gedink, miskien het ek hier 'n inleidingsparagraaf...

2 comments:

  1. Hi Marita. Ek was lanklaas so emosioneel lus en honger en "voorbereid" vir 'n boek soos joune. Ek is baie opgewonde, het 'n boekklub begin en ons heel eerste boek is "Blou Van Onthou"! So bly om op die blog af te kom, gaan dit nou van begin tot ent deurwerk en met ons volgende bespreking oor 'n maand, gaan ons almal lekker saam kan praat. Sien uit! Ready, steady, BLOU!!! :-)

    ReplyDelete
  2. Hou van jou Ready, Steady, Blou! Hoop jy lees lekker aan die blog en aan die boek.

    ReplyDelete