Thursday

Vrydag 25 Maart 2011

Om die eerste paar bladsye van 'n nuwe roman te skryf, is soos om uit 'n vliegtuig te spring sonder om te weet of jou valskerm werk. Ek het vandeesweek gespring – nou free-fall ek in die hoop dat die valskerm gaan oopvou. Adrenalien!

Adderleystraat in 1942
Maar om tot hier te kom was so 'n tydsame en pynlike proses dat ek weer van nuuts af verstaan waarom die skryf van 'n boek so dikwels met die geboorte van 'n kind vergelyk word. En hierdie is 'n besonder moeilike geboorte – selfs vir 'n vrugbare ma soos ek wat al vele boeke gebaar het – omdat dit hierdie keer boonop 'n spul historiese navorsing behels. Voor elke paragraaf, elke sin, moet ek eers my feite op internet check. Ek wil die dogtertjie en haar ma in 'n trein na Kaapstad laat ry in 1942 – nou moet ek vasstel hoe het die treine gelyk, elektries of stoom, hoe lank het dit gevat van 'n dorp soos Paarl of Wellington tot in Kaapstad, hoe laat het die laaste trein terug Wellington toe smiddae uit die stad vertrek, is die treindienste in daardie jare nie omgekrap deur die oorlog nie, en nog tienduisend ander vrae. Op die ou end besluit ek te hel met Wellington. Weet nie of dit enigsins moontlik was om net vir die dag stad toe te gaan van daar af nie, dit sou omtrent 4 ure in die trein behels, en padkos natuurlik – of was daar dalk 'n restaurantwa selfs op voorstedelike treine? Hoe de hel moet ek al hierdie dinge weet?!? Toe verander ek die dogtertjie se adres om haar nader aan die stad te kry. Playing God, al weer, maar dit bly een van die voordele van skryf.


 Groote Schuur in 1938
Maar watter Kaapse voorstad sou geskik wees? Eers gedog Pinelands, maar dit was altyd vreeslik Engels, en ek het 'n voorstad nodig met 'n Afrikaanse skool en 'n NG Kerk. Dalk Bellville, dog ek toe, dan kan die dokterpa by Karl Bremer Hospitaal gaan werk. Toe sien ek op internet dat Karl Bremer eers in 1956 gestig is! Nou mik ek maar vir Groote Schuur Hospitaal, wat darem in 1938 gestig is (altyd gedog dis veeeeel ouer), en Rondebosch as voorstad. Hoofsaaklik omdat ek baie internet-info kon opspoor oor Rondebosch se Afr skool – inligting wat ek nou al weet ek gaan heelwaarskynlik nie in my storie gebruik nie. Maar sonder daardie info in my kop, kan daar nie 'n storie wees nie. Die keuses dryf my tot raserny, maar in 4 dae het ek darem al 4 bladsye (enkelspasiëring) geskryf, so tussen die navorsing deur. Nie te sleg nie, nè.

No comments:

Post a Comment