Thursday

Woensdag 29 Junie 2011

En skielik is dit net dáár. Die skeppende werking van die onderbewussyn sal nooit ophou om my te fassineer nie. Nadat ek nou al 3 weke lank wroeg oor hoe ek die 2de 'luik' van my 3-luik moet begin, was dit eensklaps gister so helder soos daglig.

Ek het geweet die jaar moet 1966 wees, en die toneel sal iets te doen hê met die moord op Verwoerd, maar die hoe en wie en waar kon ek net nie agtermekaar kry nie. Eers gedink aan Verwoerd se begrafnis in Pretoria, waar Nandi en haar ma by die skoonfamilie kuier, maar toe besef ek gister natúúrlik moet dit in die Kaap wees, in die huis waar Nandi se ma grootgeword het, om al daardie bekende karakters weer 'n slag by die storie te betrek. Colette se ma en pa en broers en Sina en Kolletjie wat ons almal laas gesien het toe sy in 1957 op die skip Engeland toe geklim het. Dis nou amper 10 jaar later en almal het verander (of dieselfde gebly) en nou kan ons hulle deur Nandi se kinderlike oë bekyk en 'n vars blik op hulle kry.

So eenvoudig dat ek nie kan glo dit het my onderbewussyn 3 weke gekos om daar uit te kom nie - ná verskeie ompaaie en verdwaalpaaie en moeiliker opsies besef ek die reguit pad het heeltyd voor my gelê.

No comments:

Post a Comment