Thursday

Dinsdag 5 April 2011

Die prinses in SA 1947
'n Week later – en ek's sowaar klaar met my 3de hfstk. OK, bitter kort hoofstukkies. Maar darem. Ek het in die leegte gespring en die valskerm is stadig maar seker besig om oop te vou. Elke keer dae van voorbereiding vir elke hfstk, omdat elkeen in 'n ander jaar afgespeel word, elke keer teen 'n geskiedkundige agtergrond wat ingeskets moet word. 1938 - simboliese ossewatrek na Pretoria; 1942 – 2de Wêreldoorlog; 1947 – Britse koninklike gesin toer in SA. 

En nou kom ek by 1948, oorwinning van Nasionale Party en begin van apartheid, en hét ek nou gesukkel om detail te kry oor die oorwinning van die NP. Al die vervelige feite is op internet, maar die menslike detail makeer. As ek net één interessante persoonlike beskrywing kan opspoor van hoe bly Afrikaanse mense was oor die oorwinning (ek onthou dat Ma vertel het dat mense in die strate gedans het), sal ek iets daarmee kan maak. Gister heeldag gesoek, niks videomateriaal, niks foto's, niks gevind nie.


Dior se New Look 1948
Ten einde laaste besluit om die hfstk anders aan te pak, by Colette wat 'n rok aanpas vir haar eerste aandpartytjie, 'n dag of drie ná die NP-oorwinning. En haar broer wat van die universiteit af huis toe kom vir die naweek en vertel hoe hulle op Stbosch in die strate gedans het. Dis tog eintlik wat ek in elke hfstk probeer doen, om die klein persoonlike geskiedenissie voorop te stel - 'n 6de verjaardag wat met 'n fancy dress gevier word, 'n inkopietog na die stad, 'n Sondagmiddagete - en die groot politieke Geskiedenis met 'n hoofletter bloot as agtergrond te skets?  

No comments:

Post a Comment